DYSSELSDORP NUUS - 'n Gesin van tien is Saterdagaand, 13 September, dakloos gelaat nadat 'n brand in Bimraystraat, Dysselsdorp, hul huis verwoes het. Die brand het ontstaan in 'n struktuur langs die woning en het daarna na die huis versprei.
Gelukkig is niemand in die voorval beseer nie. Een van die slaapkamers, waarin die meeste klere, kaste, beddens en persoonlike besittings was, is egter in die brand vernietig.
Volgens Leon Campher van Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC), wat tans die gesin bystaan, benodig die familie dringend hulp. "Die dakplate en balke moet vervang word. Al hul belangrike dokumente, insluitend identiteitsdokumente en geboortesertifikate, is in die brand vernietig.
Ons is tans besig om klere en skoene in te samel om die onmiddellike druk op die gesin te verlig," het Campher gesê.
Die gesin bestaan uit drie volwassenes, twee persone van 67 jaar en een van 64 jaar, asook drie jong volwassenes (28, 21 en 18 jaar oud). Vier kinders, onderskeidelik 13, 6, 5 en 2 jaar oud, het ook in die huis gewoon.
Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisie-woordvoerder, het bevestig dat geen voorval by die polisie aangemeld is nie.
Inwoners wat 'n bydrae wil maak, kan Campher by 082 958 4348 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’