OUDTSHOORN NUUS - Die bekende Oudtshoornse slangvanger en brandweerman, Mornay Thysse, se spesiale slangvanghandskoene is onlangs tydens ’n toneel gesteel nadat hy op 'n toneel gewerk het.
Drie plaaslike besighede, KarooZinn, Cango Wildlife en Spur, het intussen besluit om saam te span om Thysse te help om weer ’n nuwe stel handskoene aan te skaf.
Volgens Thysse kos so ’n paar professionele slangvanghandskoene ongeveer R12 000.
Die drie besighede het reeds elk R1 000 geskenk en doen nou ’n beroep op ander besighede en lede van die gemeenskap om ook by te dra.
Volgens Micheal Koekemoer, eienaar van KarooZinn, het hulle besluit om betrokke te raak omdat Thysse oor jare heen onbaatsugtige diens aan die gemeenskap lewer.
“Hy is altyd bereid om te help en hy doen soveel meer as net lewens red en slange vang. Ons wou graag iets vir hom doen,” het Koekemoer gesê.
Thysse vang reeds 25 jaar lank slange en vertel dat die handskoene wat gesteel is, oorspronklik deur iemand aan hom geskenk is.
“Om slange net met ’n tang te vang bly ’n risiko, veral wanneer hulle in nou spasies soos voertuigenjins en agter yskaste is. Die handskoene beskerm my hande en arms,” het hy verduidelik.
Daar is besluit om die fondse wat moontlik oorbly vir 'n gemeenskapsprojek te gebruik.
Enigiemand wat ’n bydrae wil maak, kan Vanessa Engelbrecht van Cango Wildlife by 082 927 7276 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’