OUDTSHOORN NUUS - ’n Plaaslike insamelingsveldtog het groot gemeenskapsondersteuning geniet nadat die bekende Oudtshoornse slangvanger en brandweerman, Mornay Thysse, se gespesialiseerde slangvanghandskoene onlangs gesteel is.
Verlede Donderdag het drie plaaslike besighede, Santa Fe Spur, Cango Wildlife Ranch en KarooZinn, ander besighede en individue uitgedaag om saam ’n bydrae te maak om vir Thysse ’n nuwe stel handskoene aan te koop. Die drie ondernemings het self die voortou geneem met ’n gesamentlike skenking van R3 000.
’n Teiken van R12 500 is gestel om nuwe professionele slangvanghandskoene aan te koop, maar alle verwagtinge is oortref toe ’n indrukwekkende R17 700 ingesamel is.
Die fondse word gebruik om Thysse se nuwe handskoene aan te koop, terwyl die oorblywende bedrag aan hom oorhandig sal word om ander noodsaaklike toerusting vir sy werk te vervang en op te gradeer.
Thysse het vertel dat hy aanvanklik nie geweet het waarom hy verlede Donderdag gebel is nie.
“Eers toe hulle met die video begin, het ek besef wat aangaan. Ek was totaal oorstelp en het regtig nie woorde nie. Ek kon nooit dink iemand sou so iets vir my doen nie,” het hy gesê.
Hy het sy opregte dank uitgespreek teenoor elke besigheid en individu wat tot die projek bygedra het.
Volgens Vanessa Engelbrecht van Cango Wildlife Ranch was die inisiatief meer as net ondersteuning - dit was daadwerklike gemeenskapsaksie.
Die veldtog is van stapel gestuur nadat Thysse se spesiale handskoene gesteel is op ’n toneel waar hy hulp verleen het. Die professionele handskoene, wat sowat R12 000 kos, is noodsaaklik vir veilige slangvangwerk, veral in moeilike ruimtes soos voertuigenjins en agter huishoudelike toestelle.
Volgens Michael Koekemoer van KarooZinn was die besluit om te help eenvoudig.
“Hy is altyd bereid om te help. Ons wou graag iets terugdoen vir alles wat hy vir Oudtshoorn doen,” het Koekemoer gesê.
Thysse vang reeds sowat 25 jaar lank slange en het verduidelik dat die gesteelde handskoene oorspronklik aan hom geskenk is. Sonder dié beskerming bly slangvangwerk ’n groot risiko.
Verskeie ander besighede en individue het ook tot die sukses van die veldtog bygedra, onder andere:
- Karoo Pot
- Safari Volstruisplaas
- Aliyah Hope
- Philip Jeal van Teal Soaps in De Rust.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’