OUDTSHOORN NUUS - Respek vir mekaar en vir ander was een van die temas wat Vrydag 12 Desember telkens deur sprekers by die Thusong-sentrum uitgelig is tydens die onderburgemeester se gespreksessie oor geslagsgeweld en die afhanklikheid van middels soos alkohol.
Die Oudtshoorn-onderburgemeester, Zoë Tyatya, het met die aanvang van die dag aan Oudtshoorn Courant gesê die vlaag van geslags- en gesinsgeweld asook die misbruik van dwelms en veral alkohol is vir hom kommerwekkend en moet dringend deur die gemeenskap aangespreek word.
Hy het gesê die kwessie is vir hom nog belangriker aangesien 'n familielid van hom onlangs as gevolg van geslagsgeweld gesterf het.
Hy het as deel van die 16 Dae van Aktivisme teen geweld teen vroue en kinders die gemeenskap genooi om 'n gespreksessie oor die kwessies by die Thusong-sentrum by te woon.
"Hierdie is 'n ernstige probleem in ons gemeenskappe en in ons land waar geslagsgeweld as 'n nasionale ramp afgekondig is, en ons gemeenskappe moet dit dringend saam met die owerhede aanspreek," het hy Vrydag gesê.
Hy het verteenwoordigers van die polisie, departement van gesondheid, departement van maatskaplike ontwikkeling asook gemeenskapsorganisasies en kerke genooi om aan die gesprek deel te neem. Bykans al die sitplekke in die Thusong-sentrum se saal was deur lede van die gemeenskap ingeneem. Selfs inwoners van Dysselsdorp en Volmoed het die oggend bygewoon.
Uit die voorleggings van die verskillende sprekers, was dit duidelik dat vrouens die grootste persentasie van slagoffers is, dat daar 'n sterk verband tussen alkohol-misbruik en geweld is, en dat die huisgesin die plek is waar respek, verantwoordelikheid en waardes gekweek word.
"Kinders boots grootmense na en as die kinders sien hoe sy ma en pa baklei en hoe grootmense mekaar seermaak, gaan hy die naboots en dan begin die volgende siklus van geweld," het ao. James Bowers van die polisie benadruk.
Uit die aanbiedinge van sprekers sowel as reaksies en vrae van inwoners was dit duidelik dat die uitdaging te groot is om slegs deur die onderskeie departemente en polisie opgelos te word en dat mense toenemend verantwoordelikheid moet neem vir wat in hull gemeenskappe gebeur. Gemeenskappe staar werklikhede soos sosio-ekonomiese uitdagings, werkloosheid, gebroke huwelike, afwesige ouers en 'n tekort aan geleenthede vir veral jongmense ten opsigte van tydverdryf in die gesig. Dit lei tot frustrasie, drankmisbruik en geweld.
Ter afsluiting het Tyatya gesê die gesprek-sessie is slegs die begin van 'n proses in die gemeenskap om drank- en dwelmmisbruik, geslagsgebaseerde geweld, geweld teen kinders en geweld in die breë gemeenskap te beveg.
Hy het 'n dringende beroep op die gemeenskap gedoen om betrokke te raak by organisasies, om geweld aan te meld en te sorg dat die basiese waardes van respek en verantwoordelikheid weer in elke huis gevestig moet word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’