OUDTSHOORN NUUS - Wian Pieterse (31), 'n geliefde inwoner van Oudtshoorn en lid van Warlocks Southern Cape Oudtshoorn, is Saterdag oorlede.
Volgens Liezel Crause, sy verloofde, was sy dood 'n geweldige skok. Hy het 'n massiewe hartaanval by hul huis gehad.
Wollie, soos hy onder vriende bekend-gestaan het, was bekend vir sy vriendelikheid en sy bereidwilligheid om te help.
"Ek sal altyd onthou hoe mooi sy hart was. Hy het 'n gawe gehad om vinnig diep in mense se harte in te kruip, en ek dink nie hy het dit altyd besef nie."
Liezel sê hulle het drie veghonde gehad wat soos hul kinders was.
"Hy was vrek lief vir koffie en motorfiets ry. Ek het soms gewonder of hy sy fiets liewer het as vir my. Dit was iets wat hy regtig geniet het."
Wian en Liezel was die afgelope twee jaar lid van die Warlocks.
David Herring, die klub se president, het gesê Wian se dood is vir hom soos die verlies van 'n seun.
"Ek en hy het regtig 'n goeie verhouding gehad. Hy was ons public relations officer en my regterhand. Hy het als wat hy gedoen het met ongelooflike oorgawe gedoen en hy het 'n rooskleurige toekoms voor hom gehad."
Herring sê Wian se teenwoordigheid in almal se lewens gaan beslis gemis word.
'n Tradisionele bikers-begrafnis word Saterdag vir Wian beplan. Die diens vind 10:00 by Park-kerk in Buitekantstraat plaas. Na dit sal daar 'n viering van sy lewe by Smitswinkel in Langenhovenweg plaasvind.
"Ons wil dit vir hom spesiaal maak. Hy verdien dit."
Behalwe vir Liezel, laat hy ook sy suster, broer, ma en stiefma agter.
Herring het gesê dat motorfietsryers gevra word om Saterdag 'n erewag vir Wian te vorm.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’