Gallery
TUINROETE NUUS - Die beroemde Ou Tolhuis in die Montaqupas teen die suidelike hange van die Outeniquaberge is Maandag omstreeks 11:30 in die brande verwoes.
Die brandweer was wel vroeër daar om die huis en die area rondom nat te spuit, maar dit was vergeefs.
Gerda Stols, voorsitter van die Vriende van die Tolhuis wat al vir jare met oorgawe werk vir die restourasie, bewaring, opgradering en bemarking van die Tolhuis, sê dit voel soos dood in die familie.
Dit is haas onmoontlik om 'n prys te sit op die waarde van die verlore kultuurskatte, maar opgee is nie deel van Stols se karakter nie en sy maak reeds planne om dié hartshuis van George soos 'n feniks van ouds uit die puin en pyn te laat herrys. Die Tolhuis, wat in 1972 tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar is, het in 1855 ook afgebrand waarna die rietdak met sink vervang is.
Te midde van die hartseer het Stols die volgende bydrae vir George Herald geskryf:
"Ons was almal geskok om te hoor dat dié waardevolle stukkie geskiedenis wat ons met groot liefde en deernis herstel het, afgebrand het.
Die Tolhuis het ‘n baken geword waar menigeen Saterdae (en die laaste maand ook gedurende die week) heerlike pannekoek en koffie kon kry.
Die unieke geskiedenis, saam met die interessante uitstallings van vergange dae se goedere, was ‘n gewilde toerisme besoekpunt.
Gelukkig staan die mure nog en opruimings-aksies het reeds begin.
Ek het 'n vergadering met die Vriende van die Tolhuis gereël vir Saterdag 11:00 by die tolhuis sodat ons 'n aksieplan kan loods. Daar sal beslis voortgegaan word met die restourasie of heropbou sou die struktuur dit toelaat. Indien nie, sal ons die huis klip vir klip afbreek en weer van vooraf herbou. Die Tolhuis sal weer staan.
Van die kosbaarste items binne die Tolhuis wat ons verloor het was natuurlik die klavier. Ek het dit 15 jaar gelede as geskenk gekry om te gebruik vir kultuuraksies. My eie musiekinstrumente wat daar op uitstalling was is ook 'n groot verlies. 'n Pragtige 200-jarige keil is ook verlore. Dit het aan 'n vriendin van my se oupa behoort. Hy was ‘n boer in die Victoria-Wes omgewing en het dit as ouderling gedra.
Die hele versameling koperketels en silwerware, ou naaldwerkmasjiene, 'n spinwiel, asook dokumente en navorsingstukke het alles verbrand.
Kultuursake van Wes-Kaapland het 'n assistent aangestel wat Oktober by die Tolhuis begin werk het en dit elke dag beman het. Sy het heelwat besoekers wat gedurende die week daar aangekom het onthaal met pannekoek en koffie.
Die genade en ‘n groot wonderwerk is dat die waenhuis wat ons ‘n maand gelede in gebruik geneem het en van die rytuie huisves, ongedeerd is. Die kosbare transportwa wat ons van die Erfenisstigting gekry het, is veilig in die Outeniqua-vervoermuseum totdat sy eie waenhuis voltooi is.
Van ons vorige borge het reeds boumateriaal aangebied wat ons kan gebruik om die dak te herstel. Die dienste van 'n konstruksiemaatskappy sal baie welkom wees. Enige donasies en handearbeid sal hoog op prys gestel word.
George se inwoners en sakelui is bekend vir hul goedhartigheid en ons reken weer daarop. Groete, Gerda"
Kontak Stols by gerdastols@telkomsa.net of 083 772 8252.
Voor die brand... Daleen Engelbrech (middel) en die bekende akteurspaar Johan en Lida Botha met 'n model ossewaentjie waarvan daar verskeie in die tolhuis was. In die agtergrond is die waardevolle klavier. Die stoele is 'n maand gelede gerestoureer.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'