OUDTSHOORN NUUS - Sy het as toegewyde, lojale en liefdevolle opvoeder altyd haar beste gegee vir haar leerders en aspirant onderwysers, en was 'n formidabele vrou wat haarself te kort sou doen om andere gelukkig te sien.
So is Juffrou Lily Manuel (84) van Colridge View, ouddosent van die destydse Onderwyskollege Suid-Kaapland (OKSK) en kindertuinvakadviseur, Vrydagmiddag tydens 'n diens van die Vollies by haar huis deur voormalige studente van die kollege beskryf.
Manuel is op Maandag 26 Julie in die Mediclinic Klein-Karoo aan Covid-19 verwante komplikasies oorlede en Saterdag vanuit die Bridgton Verenigende Gereformeerde Kerk begrawe.
Ds. André Boesak van die Bridgton Verenigende Gereformeerde Kerk het Manuel tydens haar roudiens beskryf as 'n Maria wat haar kinders alleen grootgemaak het na haar eggenoot se dood 40 jaar gelede. "Maria het Jesus ook alleen grootgemaak," het Boesak gesê.
Die Vollies het hul laaste eer aan Manuel gebring met 'n spesiale diens voor haar huis in Sesdelaan, Colridge View. Foto's: Garnett Wicomb
Hy het Manuel as 'n merkwaardige vrou en rolmodel beskryf wat diep spore in die onderwys en in haar gemeenskap getrap het.
Paulus Fisher het sy skoonma in sy huldeblyk beskryf as 'n omgeemens en iemand wat ook alles in haar vermoë gedoen het om toe te sien dat haar kleinkinders die beste studiegeleenthede kry.
Manuel was 'n Oudtshoorniet van geboorte en een van die eerste studente aan OKSK, destyds die Bridgton Onderwyserskollege. Sy het in 1957 haar onderwysloopbaan in De Rust begin. In 1977 word sy dosent aan OKSK en in 1988 kindertuinvakadviseur tot haar aftrede in 1995.
Sy word oorleef deur vier dogters, 'n seun, 13 kleinkinders en ses agterkleinkinders.
Manuel se oorskot word na haar laaste rusplek gedra. Foto: Garnett Wicomb
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'