OUDTSHOORN NUUS - Die bekende en geliefde Johannes Wagnaar (84), beter bekend as 'Oom Hans', is Saterdag 18 April onder groot belangstelling vanuit die Oudtshoorn United Congregational Church begrawe. Hy is op 14 April ná 'n kort siekbed oorlede.
In 'n huldeblyk het advokaat Michelle Weyers, voorsitter van Union Stars-krieketklub, Wagnaar beskryf as 'n man wat respek afgedwing het deur sy nederigheid en opregtheid.
"Hy was 'n allemansvriend, 'n ware mense-mens en 'n groot sportliefhebber," het sy gesê.
Volgens Weyers was Wagnaar een van die klub se getrouste ondersteuners en het hy feitlik nooit 'n tuiswedstryd van Union Stars misgeloop nie.
"Oom Hans was eintlik perfek. Hy was opreg, nederig, respekvol, merkwaardig, passievol, lojaal, naïef en 'n dienaar. Deur sy eenvoudigheid het hy 'n groot impak in die gemeenskap gemaak," het sy gesê.
Sy het verder beklemtoon dat Wagnaar deurentyd lojaal gebly het aan sy kerk, aan Union Stars, aan Bridgton-rugbyklub en aan die ANC.
"Ons kon baie by hom leer. Hy het diep in my hart en in baie ander se harte gekruip," het Weyers gesê.
Die diens en begrafnis is deur familie, vriende en gemeenskapslede bygewoon wat hul laaste eer aan die geliefde gemeenskapsfiguur bewys het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’