OUDTSHOORN NUUS - “Hy was ’n geliefde opvoeder, staatmaker, raadgewer, pynlik netjies en sal onthou word vir sy alombekende laggie en vele kwinkslae.”
So het die skoolhoof van die Prins Albert Primêr, Mathilda Mooneys, Saterdag in die Weyers Memorial United Congregational Church in Oudtshoorn die geliefde Dawid Hildagarth Jullies (52) beskryf.
Jullies is op Hemelvaartdag in die Oudtshoorn-hospitaal na ’n kort siekbed oorlede. Hy was die laaste 15 jaar aan die skool in Prins Albert verbonde.
Volgens Mooneys sal Jullies geweldig gemis word. Nie net deur sy kollegas nie, maar ook die leerders.
Hy was ’n baie goeie onderhandelaar en het namens die opvoeders op die skoolbeheerliggaam as kassier gedien.
As lid van die skool se tugkomitee het hy ’n unieke styl gehad om verhore te hanteer.
“Vir hom was dit nie net om straf uit te deel nie, maar om met empatie na kinders se stories te luister, hulp aan te bied of om verwysings te doen na persone wat hulp kan verleen.”
Volgens Mooneys was die manier waarop Jullies sy lesse en veral liggaamlike opvoeding aangebied het, altyd komies en interessant met die nodige waardes daarin.
Jullies was ook die koördineerder van die skool se vervoerskema wat saam met die vorige hoof begin is.
Ds. Donald Moos het in sy troosboodskap na aanleiding van Psalm 47; God vaar op met gejuig, gesê dit is treffend dat Jullies op Hemelvaartdag, so ’n belangrike dag vir Christene, gesterf en die dag voor Pinkster begrawe is.
Volgens Moos het hy Jullies leer ken as iemand wat vir andere geleef het en ’n opregte mensemens was.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’