OUDTSHOORN NUUS - Sy was een van EDENfm se grootste ondersteuners en iemand wat uit haar pad gegaan het om andere te help.
So is die 54-jarige Susara Amsterdam, alombekend as 'Ma Liney' van Tierweg, Bridgton in Oudtshoorn, in huldeblyke tydens haar begrafnisdiens in die Grace International Church, beskryf.
Die kerk was voor die aankoms van Amsterdam se kis reeds stampvol en daar was nie plek vir 'n muis nie. Sy is op 24 Mei na 'n kort siekbed oorlede.
Die stasiebestuurder van EDENfm, Morné Pietersen, het in sy huldeblyk gesê Amsterdam was nie net 'n ma vir haar drie seuns nie, maar ook "Ma" van die sowat 200 000 luisteraars van die radio.
"Ons vier vandag die lewe van 'n spesiale vrou wat onuitwisbare voetspore getrap en geweldig gemis sal word. Ons vier haar kroningsfees," het Pietersen gesê.
Amsterdam het volgens Pietersen 'n besondere plek in die EDENfm-familie se lewens besit.
"Haar liefde en groot omgeehart en daaglikse boodskappe op die radio het vele van ons se harte daagliks geraak. Sy sal veral gemis word deur haar Carpe Diem en Open Heavens-maatjies, asook deur die Soup Drive-span, waar sy 'n formidabele steunpilaar was," het Pietersen gesê.
Hermien Petersen het namens die radio se luisteraars hulde aan Amsterdam gebring.
"Daar kom baie mense op ons pad, maar daar is min van hulle wat 'n blywende indruk op jou lewe maak. Mense vergeet soms wat jy aan hulle sê. Hulle vergeet wat jy vir hulle doen, maar vergeet nie hoe jy hulle laat voel nie. En suster Liney was een van dié mense. Iemand by wie jy altyd tuis, geliefd en geborge gevoel het. Sy het mense om haar vergader met haar omgeehart en almal dieselfde behandel - van die mees eenvoudigste tot die mees belangrikste het sy met dieselfde respek, liefde en omgee ontvang," het Petersen gesê.
Volgens haar het Amsterdam in 2012 by die radio se uitreikingspan aangesluit toe Nolan Arendse en Debbie Valentine met die program Give thanks with a grateful Heart begin het om uit te reik met kos, klere, komberse en die evangelie na die mees arm en afgeleë gemeenskappe
"Sy het diep spore getrap wat nooit deur die winde van die tyd weggewaai sal word nie. Ons soete herinneringe sal haar impak aan die lewe hou terwyl ons werk om die seisoen wat sy begin het verder te vat. Daar is 'n seerplek en leemte in die EDENfm-familie wat baie lank sal neem om te genees."
Familielede dra die kis die kerk binne. Foto: Garnett Wicomb
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’