OUDTSHOORN NUUS - Die mosies van wantroue wat tydens gisteroggend, 20 Maart, se raadsvergadering moes dien, is deur die partye wat dit aanvanklik ingedien het, teruggetrek.
Die mosies sou teen burgemeester Chris Macpherson, onderburgemeester Vlancio Donson en speaker Johan Allers dien.
Suzane Jansen, raadslid van die Patriotic Alliance (PA), het die mosies saam met Colan Sylvester (OGI) en Deandro Booysen (Advieskantoor) ingedien.
Volgens Jansen het hulle besluit om die mosies in te dien as gevolg van die struwelinge die afgelope tyd tussen die partye in die regerende koalisie.
"Ons is hier ingestem deur die mense van die Groter Oudtshoorn. Dit is hulle wat besluit het ons is goed genoeg om die dorp te lei, kom ons doen dit. Dit raak al duideliker dat hier mense sit net vir eie belang. Die mense in die raad moet besef dat dit hier oor die dorp en sy mense gaan. Niemand anders nie en ook nie oor persoonlike gevoelens nie."
Volgens haar hoop sy dat hierdie mosies as 'n waarskuwing dien vir die regerende koalisie.
"Ons sal weer die mosies laat dien. Ons wil nie sit met mense wat 'n dorp op hierdie manier lei nie," het sy gesê.
Die mosies kan eers weer na drie maande ingedien word.
Nuwe raadslid
Deandro Booysen, die nuwe raadslid van Advieskantoor, het ook gister sy eerste raadsvergadering bygewoon. Allers het verduidelik dat nuwe wetgewing vereis dat hy by die magistraatkantoor ingesweer word, en nie meer tydens raadsvergaderings nie.
Deandro Booysen
Begroting
Die konsepbegroting is ook tydens die raadsvergadering goedgekeur. Macpherson het gesê dat hierdie begroting weereens onder uitdagende omstandighede opgestel is, veral wanneer die huidige ekonomiese druk waaronder elke Suid-Afrikaner verkeer in ag geneem word.
"Beurtkrag het toegeneem en die munisipaliteit het bykans R23 miljoen verloor as gevolg van beurtkrag. Beurtkrag het ook 'n impak op dienslewering en die voortbestaan van baie besighede word bedreig. Jare se verwaarlosing in instandhouding, opknapping en hernuwing van infrastruktuur het nou 'n bottelnek van infrastruktuur ineenstorting wat bykomende finansiële hulpbronne vereis. Die faktore moes als in ag geneem word met die opstel van die begroting."
Hy het verder gesê dat inwoners die reg het tot hoë kwaliteit, betroubare dienste en die doeltreffende benutting van finansiële hulpbronne bly die sleutel in die uitvoering van hulle mandaat, maar die gemeenskap het ook 'n verpligting om die munisipaliteit by te staan om te verseker dat finansiële en ander hulpbronne nie vermors word op nie-noodsaaklike projekte nie.
Hy het ook gesê dat die bedryfsuitgawe begroting vir die 2024/25 finansiële jaar sowat R 958 922 200 beloop en dat die munisipaliteit vir geen nuwe vakatures begroot het nie.
Burgemeester Chris Macpherson. Foto's: Liezl van Niekerk
Personeelkoste is ongeveer 36,02 % van die totale uitgawes en daar is steeds 'n gesamentlike poging aangewend om personeelkoste te verminder sonder om bedryfsdoeltreffendheid en dienslewering negatief te beïnvloed.
Die toename in deurnisgevalle het ook 'n impak op die begroting gehad. Volgens hom wek die skerp groei in behoeftige registrasies tydens die 2022/23-boekjaar groot kommer en sal dit 'n impak hê op die 2024/25 finansiële jaar.
In die bedryfsbegroting word daar onder meer voorsiening gemaak vir die subsidiëring van behoeftige huishoudings soos volg:
- Die eerste 6Kl water per maand sowel as 50 eenhede elektrisiteit sal gratis wees.
- 'n 100% subsidie vir vullisverwydering en rioolheffings sal gegee word.
- Vrystelling van behoeftige huishoudings van die betaling van die basiese waterheffing asook die vraagheffing per ampere vir elektrisiteitskapasiteit.
Macpherson sê die totale bedrag vir gratis dienste, insluitend gratis dienste wat in Eskom-verspreidingsgebiede gegee word, assesseringskoerskortings en begrafnisse oorskry R99,5 miljoen vir die 2024/25 finansiële jaar.
"Benewens die subsidies wat aan behoeftige verbruikers verskaf word, word daar ook korting vir pensioenarisse gegee indien hulle huishoudelike inkomste laer is as R204 000 is."
Hy het ook gesê dat vullisverwydering, sanitasie en water met 6% styg en dat die tarief waarvolgens erfbelasting bereken word 12% laer is as verlede jaar. Elektrisiteitstariewe styg met ongeveer 12 % soos deur Nersa bepaal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’