OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) kon nie noodsaaklike vakatures vul tydens hul algemene jaarvergadering nie weens die afwesigheid van 'n kworum.
Die vergadering het vanaand, 21 November in die Thusong Sentrum in Bongolethu plaasgevind.
Die proses om weer 'n algemene jaarvergadering te reel sal nou binne 14 dae plaasvind en sal rolspelers en die gemeenskap weer uitgenooi word om die belangrike vergadering by te woon. Die datum sal ook bekendgemaak word.
Tans is alle posisies op die GPF vakant en moet dringend gevul word. Volgens ao Leila Claassen het 20 instansies/ belanghebbendes geregistreer om op die nuwe bestuur te dien. "Ons het 11 persone nodig gehad om die vergadering te laat voortgaan, ongelukkig was net tien teenwoordig."
Die GPF is 'n vennootskap tussen die plaaslike gemeenskap en die polisie en kan slegs 'n wesenlike verskil maak indien lede vanuit die gemeenskap inkoop by die inisiatief.
Dit voorsien 'n platform vir inwoners om met die polisie te skakel om misdaad binne die gemeenskap aan te spreek.
Deur gereelde vergaderings, en samewerking poog die GPF om beter kommunikasie te bevorder tussen die polisie en die gemeenskap. Deur saam te werk kan die polisie aandag gee aan kern misdaadkwessies binne die gemeenskap.
Die GPF het ten doel om publieke bewusmaking te skep in terme van gemeenskapsveiligheid, misdaadvoorkoming, asook die beskerming van eiendom.
Gemeenskappe word aangemoedig om nou saam met die polisie, asook ander veiligheidsvennote te werk.Alle organisasies, soos raadslede, nie-regerings organisasies, gemeenskapsleiers en kerkleiers word aangemoedig om aan te sluit om 'n verskil in Oudtshoorn te maak.
Sluit aan by GPF
Persone wat belangstel om by die GPF aan te sluit kan die nodige aansoekvorms by ao. L Claassen (sosiale misdaadvoorkoming: Oudtshoorn) afhaal by kamer 8 by die Oudtshoorn-polisiestasie.
Kontak Claassen voor 11 Oktober, gedurende kantoorure by 044 203 9025 of 079 460 9511.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’