OUDTSHOORN NUUS - 'n Man wat op aanklag van roof met verswarende omstandighede en huisbraak teregstaan, se borgtog is in die Oudtshoorn-landdroshof geweier. Die man het ook 'n lang lys vorige veroordelings op sy rekord.
Edwin Jonkers (27) word daarvan aangekla dat hy op 8 Mei 2020 by die besigheidsperseel van Cornelius Stols in Buysstraat, Bridgton ingebreek het. Hy het ook vir Azmacha Ladamo, 'n buitelandse burger, in 16de Laan met 'n panga en mes gedreig en van sy selfoon en R2 000 kontant (totale waarde R6 000) beroof.
Die ondersoekbeampte ao. Piet Hendricks het borgtog teengestaan omdat Jonkers moeilik in die hande gekry word.
Die polisie het sedert Julie verlede jaar na hom gesoek en hy het in November 'n vals naam aan polisie gegee en ook voorgegee dat hy in die hospitaal was wat nie so was nie.
Volgens hom beskik hy oor 'n vaste werk op die Taxistaanplek, maar navraag hieroor dui daarop dat dit onwaar is.
"Vrese bestaan dat hy nie vir sy saak hof toe sal kom nie," het Hendricks getuig.
Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het in die lig van die ondersoekbeampte se getuienis die hof gevra om borgtog te weier.
Landdros Marvin de Vos het in sy uitspraak gesê Jonkers het nie oop kaarte met die hof gespeel nie.
Hy wil 'n verandering in sy lewe maak, maar was verhoorafwagtend toe hy weer vir 'n misdryf aangekeer is.
Ondersoekwerk deur die ondersoekbeampte dui ook daarop dat die hy nie 'n vaste werk het nie.
Volgens sy rekord is dit duidelik dat hy 'n geneigdheid het om misdaad te pleeg en getuienis daarop dui dat hy die regstelsel sal ondermyn.
Die hof het bevind dat dit dus nie in regsbelang sal wees om borgtog toe te staan nie. Die saak is tot 5 Februarie uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'