KAROO NUUS - "Die Oudtshoorn-landdroshof was bevoorreg om 'n man soos wyle landdros Graehýmme Williams as kollega te kon hê. Hy het 'n merk gelaat wat beslis navolgenswaardig is."
So het hooflanddros Ryan van Harte die ontslape Williams op Donderdag 4 Mei tydens 'n spesiale gedenkdiens in die A-hof, die hof waarin Williams sake aangehoor het, gesê.
Williams, wat op 25 April in sy huis in George oorlede is, is in huldeblyke as 'n mense-mens, streng, pynlik netjies, gedissiplineerd en iemand wat nie ongeregtigheid verdra het nie, beskryf.
Hy het op 1 Oktober 2021 as landdros in Oudtshoorn begin werk en in Oktober verlede jaar weens sy siekte opgehou werk.
Volgens Van Harte was hy bestem om nog eendag as regter van die hooggeregshof aangestel te word nadat hy reeds genooi was vir 'n onderhoud.
"Graehýmme was 'n man met 'n magdom kennis en iemand wat nie ongeregtigheid geduld nie. Hy het van almal verwag om hul werk met waardigheid te doen. Hy het vir almal omgegee, vir die slagoffers van geweld, maar ook vir die oortreders. Hy het beslis 'n merk gemaak wat ons almal behoort te volg," het Van Harte afgesluit.
'n Hofordonnans, Mariska Grootboom, het in haar huldeblyk gesê dat sy Williams sal onthou as iemand wat almal met respek behandel het.
"Behalwe vir die feit dat meneer Williams 'n streng, presiese, respekvolle en gedissiplineerde persoon was, was hy 'n baie goedhartige mens en altyd bereid om te help en 'n ekstra myl te stap met enigiemand wat hulp nodig gehad het. Ons as hofordonnanse was almal bang vir hom en het ongetwyfeld baie by hom geleer. Ons kan net voortbou op die kennis en advies wat ons van hom gekry het en op sy nalatenskap voortbou."
Volgens haar was hy 'n unieke persoon wat na sy eie drom gemarsjeer het.
Sy het namens die SAPD medelye aan Williams se vrou en familie oorgedra met die boodskap om nie vir jou teenwoordigheid opgemerk te moet word nie, maar vir jou afwesigheid gemis moet word.
Cindy Murray-Smith van die Regshulpraad het Williams beskryf as 'n man wat 'n passie vir sy gemeenskap gehad het en 'n voorstander was dat regslui uitreik na die gemeenskap. Sy het almal aangemoedig om sy boek, Judicial Manuel, te lees.
Volgens Juanita Barron, die hof se kantoorbestuurder, sal sy Williams onthou vir die besondere wyse hoedat hy in die hof opgetree het en iemand wat, indien hy enige pyn verduur het, nooit gekla het nie.
Royden Boonzaaier en Lisa Cremer het onderskeidelik namens die departement van justisie en die Nasionale Vervolgingsgesag medelye aan Williams se eggenote en familie oorgedra,
Hy laat sy vrou, Charlene, 'n 10-jarige dogter, een broer en 'n suster agter.
Hooflanddros Ryan van Harte oorhandig Graehýmme Williams se toga aan sy weduwee, Charlene, met vader Enrico Parry van die Rooms-Katolieke Kerk agter hulle. Foto: Garnett Wicomb
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’