Update
OUDTSHOORN NUUS - Die NG Kerk Schoemanshoek was Maandag stampvol met roubeklaers by die roudiens van Louis Lategan (45) wat verlede week in 'n motorongeluk omgekom het.
Hy was Woensdagaand 28 Maart omstreeks 23:00 vanaf Oudtshoorn na Thorntree, die gastehuis wat hy en sy vrou, Tanja besit, onderweg toe sy motor die pad verlaat en teen 'n veiligheidsreling gebots het.
Die reling het by die windskerm van die motor ingegaan en is deur die motor en by die agterruit uit.
Louis het ernstige hoofbeserings opgedoen en is ongeveer drie ure later in die hospitaal oorlede. Die botsing het ongeveer 2 km van Thorntree af op die grottepad gebeur. Louis se vrou was minute na die botsing op die toneel en was by haar man totdat hy in die hospitaal beswyk het. Die egpaar se twee kinders, Daniël en Talana, was onbewus van die ongeluk en Tanja het die nuus Donderdagoggend aan hulle oorgedra.
Louis was 'n kranige fietsryer en 'n hele aantal fietsryers het per fiets van Oudtshoorn na die roudiens gery. Louis se boesemvriend en fietsrymaat, Hugo du Plessis, het in 'n huldeblyk boodskappe van mense voorgelees en vertel watter positiewe invloed Louis op mense se lewens gehad het.
Ten spyte van die tragedie het die personeel van Thorntree die afgelope week getrou saam met Tanja na die belange van gaste omgesien wat plekbesprekings tydens die KKNK gehad het.
Die oorsaak van die botsing is nog nie bekend nie. Volgens 'n bestuurslid van die konstruksiemaatskappy wat met opgraderingswerk tussen Oudtshoorn en die grotte besig was, is die werk aan die pad reeds afgehandel met enkele afrondings wat na die fees gedoen sal word. Daar was geen padwerke die afgelope twee weke nie, juis met die oog op KKNK verkeer.
Die botsingstoneel 2 km voor Thorntree-gastehuis. Foto: Hannes Visser. INLAS: Louis Lategan na afloop van die 360one-fietsren verlede jaar.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'