CALITZDORP NUUS - Calitzdorp-gemeenskapskas is deurlopend betrokke in Calitzdorp en hulle Winter Woolies-projek is tans hul prioriteit.
Dit het onder die organisasie se aandag gekom dat heelwat kinders wat skoolgaan by Gamka-Oos Primêr in die winter sonder die nodige warm klere by die skool opdaag.
Sue Nicolas van die organisasie noem dat die klaskamers koud is en loop die kinders gereeld lang afstande in ysige weer.
"Gamka-Oos is grotendeels 'n plaas-gemeenskap met heelwat minderbevoor-regte kinders. Ons het besluit om die kinders toe te rus met handskoene, serpe, mussies, sokkies en 'n warm kniekombers vir die winter."
Volgens haar het hulle in 2023 die projek begin en op die gr.-R en twee gr. 1-klasse gefokus. "Hierdie jaar gaan ons slegs die gr. R-klasse doen sodat die kinders dit weer in gr. 1 kan gebruik."
Calitzdorp-gemeenskapskas het die wol, sokkies en 'n gedeelte van die komberse geborg.
"Vrygewige donateurs het gehelp met die res van die komberse. Heelwat dames in die gemeenskap het gehelp met die brei van die serpe, handskoene en mussies."
Die klerasie sal na die Paasvakansie uitgedeel word sodat dit betyds is vir wanneer die Karoo-winter aanbreek. Die organisasie hoop om hierdie 'n jaarlikse projek te maak.
Indien jy betrokke wil raak of 'n skenking tot die Calitzdorp-gemeenskapskas wil maak kontak Sue Nicolas by 076 457 6540.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’