OUDTSHOORN NUUS - Terwyl sommige lede van die Ek is Oudtshoorn-projek besig is om die klok by die museum te herstel, wy ander hulle aandag aan die ingang van die dorp.
Daar is reeds groot moeite gedoen met die uitlê van 'n tuin en die aanplant van bome by die ingang vanaf Calitzdorp. Hierdie week is die ingang verder opgeknap toe twee kunstenaars die muur by die aftrekplek versier het.
Onder leiding van Madelein Miles het Zietske Saaiman en Colin Meyer 'n swart en wit toneel van Oudtshoorn, wat ook die embleem van die Oudtshoorn-besigheidskamer is, op die een kant van die muur geverf.
Op die ander kant is twee groot volstruisvlerke met die boodskap "Oudtshoorn. May the feathers be with you" aangebring.
"Die idee is dat besoekers tussen die vlerke kan kom sit sodat iemand van hulle 'n foto kan neem en terselfdertyd is dit 'n tipe van 'n goeie wens aan besoekers, 'n gedagte om saam te neem op hulle reis," sê Miles wat die konsep ontwerp het.
Volgens Jaco Vorster, die inisieerder van Ek is Oudtshoorn, is die groter prentjie van die projek dat mense toenemend self by die opknapping van die dorp betrokke moet raak.
"Dink net wat 'n groot verskil dit aan die dorp sal maak as elke inwoner net vir 'n klein stukkie positiwiteit sorg.
"As elkeen net dit wat hy het, onderhou en mooimaak, dan kan ons mos net vorentoe gaan."
Meer as 100 bome is ook reeds as deel van die Ek is Oudtshoorn-projek op verskeie plekke in die dorp aangeplant.
Zietske Saaiman en Colin Meyer by die ingangsmuur wat hulle hierdie week versier het. Foto: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'