OUDTSHOORHOORN NUUS - Min dinge berei 'n ouer voor op die nuus dat 'n gesonde, spelende kind skielik nie meer leef nie.
Vir Henry Rhodes, 'n taxibestuurder, het daardie ondenkbare werklikheid Maandagoggend, 6 Julie, 'n realiteit geword toe sy driejarige dogter, Dianielle, noodlottig beseer is toe 'n baksteenpilaar by hul huis in Bongolethu op haar geval het.
"Niemand verwag dat jy jou pragtige driejarige dogtertjie by die huis los en vier ure later 'n oproep kry waarin iemand jou laat weet sy is dood nie," sê Henry.
Hy was besig om passassiers te vervoer toe sy 14-jarige seun, Jonty, hom gebel het.
"Ek was net 'n straat agter die huis toe hy my bel en sê Dianielle was in 'n ongeluk. 'Die baksteenpilaar het op haar geval, en ons dink sy is dood.'"
Jennifer Rhodes en haar twee dogters, Dianielle en Washiefa. Foto: Verskaf
Volgens Henry het Dianielle en haar vierjarige sussie, Washiefa, soos gewoonlik buite gespeel toe die baksteenpilaar, wat deel van die huis se grensmuur was, skielik meegegee het en haar teen die kop getref het.
Die kinders se ma, Jennifer, was ten tyde van die voorval in die huis.
"Jonty was saam met hulle buite en het alles sien gebeur. Jennifer het uitgehardloop toe sy die geskreeu hoor."
Henry beskryf die voorval as 'n tragiese fratsongeluk.
"Toe ek die oproep kry, het ek die taxi net daar gelos en huis toe gehardloop.
"Ons het haar dadelik na die Bongolethu-kliniek geneem omdat dit die naaste was, maar sy was waarskynlik reeds met aankoms oorlede."
Vir die Rhodes-familie laat Dianielle se dood 'n leemte wat moeilik gevul sal word.
Henry beskryf haar as 'n vrolike, liefdevolle kind. "Sy het ons elke dag laat lag en almal om haar pinkie gedraai. Haar ouma, Leentjie Roman, wat bedags na haar gekyk het, moes gereeld winkel toe loop om lekkers vir haar te koop. Hulle twee was boesemvriende."
Hy vertel ook van 'n gesprek wat hom diep sal bybly. "Saterdag was ons saam by 'n begrafnis. Sy het na my toe gekom en gesê: 'Pappa, die mense sing heeltyd my liedjie.' Sy het verwys na 'As die verlostes huis toe gaan'. Dalk het sy haar reeds voorberei om voor ons huis toe te gaan," sê hy.
Jennifer sukkel steeds om die gebeure te verwerk. "Ek gaan my baba verskriklik mis."
Henry sê die familie moes vandeesweek nog Dianielle se liggaam formeel gaan uitken en beplan om haar moontlik volgende week te begrawe.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’