OUDTSHOORN NUUS - Sy was 'n hardwerkende, merkwaardige en formidabele vrou wat nie geweet het hoe om vir iemand nee te sê nie.
So is Helen Jane Strydom (85) van Matjiesrivier, Saterdag tydens haar begrafnisdiens in die Weyers Memorial United Congregational Church beskryf.
Strydom is op 3 Desember oorlede.
Sy was 'n nooi James, en het vir baie jare saam met haar man, Jerry, wat haar in 2012 ontval het, op Matjiesrivier gewoon en geboer.
Omdat haar man nie 'n rybewys gehad het nie, het sy in 1972 haar rybewys bekom. Daarna was dit haar taak om die plaas se oeste na Oudtshoorn te ry en het almal op die plaas van haar dienste gebruik gemaak.
Sy het gereeld gemeenskapslede na dokters en hospitale in Oudtshoorn gery.
Rita Wicomb, 'n boorling van Matjiesrivier, het in haar huldeblyk Strydom as 'n merkwaardig en onselfsugtige omgeevrou beskryf. "Sy laat beslis 'n leë plek in Matjiesrivier."
Steven Louw het 'n brief van haar kinders tydens die diens voorgelees.
"Sy was 'n vrou wat nie gehuiwer het om te help nie. Sy was nie bang vir 'n motor se stuurwiel nie en haar voertuig as troukar, ambulans en ook as lykswa gebruik. Sy kon net nie nee sê nie." Daarby was sy ook 'n baasbakster. "Mamma jy was 'n ystervrou," sluit die brief af.
Daclon Arries, het in sy bedankings gesê Strydom het 'n dinamiese rol in die gemeenskap van Matjiesrivier gespeel.
"Sy het ook 'n groot liefde vir kinders gehad en kon sy 'n geselskap aan die gang hou. Hy het 'n beroep op die jonger geslag van Matjiesrivier gedoen om nie van die bejaardes te vergeet nie."
Ds. Donald Moos het die kinders en familie na aanleiding van Psalm 77 getroos.
Volgens hom sal hy Strydom onthou vir die baie rolle wat sy in die gemeenskap van Matjiesrivier gespeel het.
Strydom laat vier kinders, Maureen, Raymond, Denver en Jerome, tien kleinkinders en nege agterkinders agter.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’