OUDTSHOORN NUUS - Toerisme in Oudtshoorn kan baat by die filmbedryf en die nuwe bestuur wat onlangs gekies is, en het groot planne vir die toekoms van die bedryf in die dorp.
By die toerismeburo se algemene jaar-vergadering op Woensdag 16 Augustus by Kleinplaas, wat beide Oudtshoorn en De Rust se belange handhaaf, was die beeld van toerisme wat weergegee is baie positief.
Sedert die Covid-pandemie, wat toerisme gekniehalter het, het besoekers aan die dorp gegroei en lyk die toekoms vir die industrie helder, volgens Tammy Moult, voormalige voorsitter van die toerismeburo se bestuur.
Moult het onder meer gesels oor die buro se bemarkingsinisiatiewe en fokusareas waarop gekonsentreer word om toerisme in die Klein-Karoo op te bou. Verhoudings moet gehandhaaf word om die industrie te ondersteun en versterk, het sy gesê, terwyl sy verder uitgebrei het oor hoe finansiering gebruik moet word en nodig is om die Klein-Karoo aan die buiteland te bemark.
Die gasspreker vir die aand, Patrick Walton, het met die gehoor gedeel dat Oudtshoorn moontlik die kern van die filmbedryf, of altans die produksiekern van realiteitsprogramme, in die Suid-Kaap kan wees.
Walton is onder meer 'n regisseur, filmvervaardiger, akteur, waaghals en voorsitter van die Tuinroete Filmkommissie. Hy bring gedurig oorsese realiteitsprogramme na die Tuinroete en het besef wat 'n groot rol hierdie industrie in plaaslike toerisme kan speel. Dit kan volgens hom jaarliks miljoene rande in die ekonomie instoot. Walton, wat ook die eienaar van Shootaway Productions en die Tuinroete Filmfees is, het gesê dat film die kapasiteit het om toerisme aan die dorp 'n hupstoot te gee. Volgens hom is Oudtshoorn in die perfekte posisie om 'n sentrale rol te speel in 'n spasie waar oorsese produksies gereeld vir plekke soek om hul produksiespanne te vestig.
Maar volgens hom is samewerking met toerisme en ook die munisipaliteit van kardinale belang. 'n Plaaslike filmkommissie moet gestig word wat hierdie proses kan fasiliteer en besighede moet inkoop op die idee om te kan baat by die groeiende industrie.
"Oudtshoorn is grootliks onontgin in hierdie aspek. Hierdie realiteitsprogram-industrie het die moontlikheid om twee tot drie-nag-besoeke na 30-dae besoeke te verander. Hier is aantreklikhede soos die Kango-grotte en die Cango Wildlife Ranch, om net 'n paar te noem, en die oorsese mark is honger daarvoor. Dit beteken dat gastehuise, hotelle, restaurante, vulstasies, supermarkte - enige winkel in Oudtshoorn selfs haarsalonne daaruit kan baat," het hy vertel.
Volgens Walton kan selfs dokters, fisioterapeute, sielkundiges, drukkers en nog vele meer finansieel daarby baat indien so 'n produksie na Oudtshoorn kom.
"Die filmbedryf het die kapasiteit om toerisme in 'n dorp grootliks te verbeter. Ons het net almal nodig om saam te werk."
Gasspreker Patrick Walton. Foto: Stefan Goosen
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’