OUDTSHOORN NEWS - Hy was nie 'n man wat op die voorgrond wou wees nie. Hy was iemand wat sy plek in die kerk volgestaan het.
So het ds. Donald Moos van die Weyers Memorial United Church, Johan Wicomb, oudinwoner van Oudtshoorn, op Saterdag 22 Maart tydens sy begrafnisdiens in die Bellville Congregational Church beskryf.
Wicomb en sy vrou, Helen, het 'n paar jaar gelede na Kaapstad verhuis. Hy is op 7 Maart, 'n dag na sy 72ste verjaarsdag na 'n lang siekbed oorlede.
Die voorsitter van die Wicomb-familie saamtrekkomitee, Jonathan Wicomb, het namens die familie hulde aan Johan gebring wat sedert die familie se eerste saamtrek in 1981 by De Hoek die kassier was en die besprekingslys vir die saamtrekke noukeurig bygehou het. Wicomb was, volgens Moos, saam met wyle meester Ampie Wicomb, vir baie jare verantwoordelik vir die kerk se maandelikse nuusbrief en baie sekuur.
"Sy ja, was sy ja, en sy nee, sy nee, maar hy het nie erkenning verwag vir wat hy gedoen het nie."
Wicomb laat sy vrou, twee kinders, Crystal en Ronald, hul wederhelftes, Jeremy en Mandy, en drie kleinkinders, Jerené en Jaiden Esau, en Hunter Wicomb agter.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’