OUDTSHOORN NUUS - 'n Oudtshoorn-familie het hul ontevre-denheid uitgespreek oor die toestand van hul moeder, Christina Damons, se graf by die Oudtshoorn-begraafplaas.
Volgens Sharon Kok, Damons se dogter, het die familie Maandag 6 April die begraafplaas besoek om blomme op haar ma se graf te sit. Damons is 'n maand gelede oorlede is.
"Ons was bitter geskok toe ons daar aankom en sien dat 'n graf reg langs my ma se graf gegrawe is en dat die grond eenvoudig bo-op haar graf gegooi is. Die nuwe graf is basies teenaan my ma se graf gegrawe," het Kok gesê.
Die kruis by Damons se graf was skaars sigbaar onder die hoop grond.
Sy voeg by dat die familie nie eens blomme kon neersit nie aangesien die graf volgens haar "soos 'n gemors" gelyk het.
Die familie het aangedui dat hulle van plan is om die Oudtshoorn-munisipaliteit te kontak om die situasie aan te spreek.
"Waar is die respek vir gestorwenes?" het sy gevra.
Kok het laat Dinsdagmiddag, 7 April, die koerant in kennis gestel dat die skade herstel is. "Oudtshoorn-munisipaliteit het dit dadelik gaan regmaak en my ma se graf is nou weer netjies."
Sy het gesê sy is dankbaar vir die vinnige optrede van die munisipaliteit. Die gat wat langs haar ma se graf was is ook toegegooi.
'n Navraag is aan die Oudtshoorn-munisipaliteit gestuur, maar teen druktyd is geen terugvoer ontvang nie. Reaksie sal bygevoeg word sodra dit ontvang word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’