OUDTSHOORN NUUS - Reuben Terblanche (11) 'n lewendige, slim gr. 6-leerder van Laerskool Wesbank in Oudtshoorn, se lewe het tydens 'n naweek saam met sy familie in Swellendam in 'n oogwink verander.
Tydens dié naweek is sy linkeroog met 'n aalwyn deurboor wat dadelik sy sig ingevaar gestel het. Reuben het dadelik na sy ma, Chrisna, gegaan en genoem sy oog is baie seer en dat hy dit nie kan oopmaak of kan sien nie.
Toe sy ouers, Jacques en Chrisna Terblanche, besef sy oog is erger beseer as wat hulle aanvanklik gedink het, het hulle hom onmiddellik vir mediese sorg geneem.
In gesprek met Chrisna noem sy dat sy oog se lens op 1 Maart uitgehaal en sy kornea deur dr. Frik de Jager, 'n oogspesialis van Oudtshoorn geheg is.
"Hy het ons ingelig dat die oog se retina waarskynlik ook beseer is en moes Reuben vir 'n tweede operasie in George gaan, waar dr. Johannes Meyer sy retina herstel het en die oorblywende lens uitgehaal het."
Volgens haar kan Reuben slegs beweging en kleur sien. Met nadere ondersoek is vasgestel dat die sny regdeur sy kornea duidelik sigbaar is.
Hy moet nou Kaapstad toe gaan vir 'n kornea-oorplanting wat deel vorm van orgaanskenking.
"Die operasie sal in die volgende twee weke plaasvind en is baie duur aangesien die kornea vir die oorplanting van die VSA ingevoer moet word.
"Gelukkig val dit onder 'n 'A-vaskulêre' orgaan wat beteken dit is nie verwant aan 'n bloedgroep nie. Dit beteken die opsporing van 'n kornea wat pas is baie groter is."
Die spesialis, dr. Michael Attenborough gaan die oorplanting doen.
Omdat hy tans geen diepte persepsie het nie, kan hy nie aan sport deelneem nie, veral rugby waarvoor hy so lief. "Dit gaan 'n jaar neem om heeltemal te herstel, maar hy behoort in drie maande sy visie terug te kry," vertel Chrisna.
Sy vertel dat hulle eendag na die eerste operasie in Oudtshoorn oor die brug, wat nou blou geverf is, gery het. Al die oë het dadelik haar aandag getrek. "Dit was vir my 'n teken dat alles reg gaan uitwerk. Ek het dadelik vir Reuben genoem ons moet 'n foto van hom by die brug neem."
Die familie het intussen 'n Back-a-buddy-veldtog genaamd 'Eye believe in Reuben', begin om fondse in te samel vir die lang pad wat hy gaan stap, asook om kostes te dek, indien nodig. Hulle is ook besig met sokkies wat deur Versus vervaardig gaan word met oë daarop, asook, die slogan 'Eye believe in Reuben', om verder fondse in te samel, asook bewusmaking te skep rondom orgaanskenking, en veral kornea-oorplantings.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’