OUDTSHOORN NUUS - Wyndham Ewerts, senior joernalis van Oudtshoorn Courant neem op 1 Julie die leisels as redakteur van Knysna-Plett Herald (susterskoerant van Oudtshoorn Courant) oor.
Ewerts het in sy dekade lange loopbaan, wat sy tydperk by Die Hoorn insluit, verskeie toekennings vir sportberiggewing ingepalm. Sy veelsydige vermoë om die gemeenskap se belangrikste stories enige iets van politiek, menslike belange of harde nuus te verwoord, het hom oor die jare groot respek onder sy kollegas en die publiek besorg.
"Alhoewel ek my geboortedorp gaan mis, is ek opgewonde oor hierdie nuwe hoofstuk in my loopbaan," sê Ewerts. "Ek sien uit daarna om saam met my span by Knysna-Plett Herald te werk en voort te gaan om kwaliteit joernalistiek aan ons lesers te lewer."
Nuwe joernalis
Oudtshoorn Courant verwelkom op 1 Julie vir Louise Mouton as nuwe joernalis by die koerant. Mouton, afkomstig van Stilbaai, bring 'n skatkis van ervaring en kundigheid na haar nuwe rol. Haar loopbaan in joernalistiek strek oor meer as 17 jaar.
Sy het van 2003 tot 2017 as senior joernalis by die Suid-Kaap Forum (susterskoerant van Oudtshoorn Courant) in Riversdal gewerk. Gedurende hierdie tyd het sy haarself gevestig as 'n deskundige op die gebied van politieke en munisipale verslaggewing.
In 2017 het sy 'n nuwe loopbaanpad ingeslaan toe sy 'n pos aanvaar het by die Demokratiese Alliansie in die Oosstreek.
Hierdie rol het haar 'n diepgaande begrip van die politieke landskap gegee en haar vermoë verbeter om komplekse gemeenskapskwessies aan te spreek. In 2021 het sy besluit om terug te keer na haar wortels in joernalistiek en het as 'n vryskutjoernalis gewerk.
"Ek is opgewonde oor die geleentheid om Oudtshoorn en sy mense beter te leer ken en ek sien uit daarna om stories te vertel wat saak maak en om 'n positiewe bydrae te lewer tot die lewens van die mense van Oudtshoorn."
- Lesers word aangemoedig om Mouton te kontak met enige nuuswenke of stories wat hulle wil deel. Sy is beskikbaar by 064 145 4457 of per e-pos by louisem@ groupeditors.co.za
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’