OUDTSHOORN NUUS - "Keanin was 'n nederige persoon met 'n opgewekte geaardheid wat daarvan gehou het om grappies te maak; 'n positiewe mens - en dit is ook hoe hy onthou wil word."
So het Sasha Esau, vrou van die ontslape, talentvolle rugbyspeler, Keanin Esau, vandeesweek aan Oudtshoorn Courant vertel.
Keanin is verlede week na 'n kort siekbed oorlede en sy dood het groot reaksie op sosiale media uitgelok, 'n getuigskrif van hoe geliefd en gerespekteerd hy in rugykringe en onder die breë gemeenskap was.
Sy vrou sê dat sy die boodskappe van bemoediging en blomme waardeer.
"Hy het regtig geleef vir sy sport en as vaderfiguur was hy die beste wat jy kon kry. Ons jong seuns het onlangs rugby begin speel en hy sou altyd vir hulle raad gee. Hy was daar vir sy kinders in woord en daad. Ook by sy sport was hy baie committed, hy sou byvoorbeeld pas van Pretoria af kom, maar môre draf hy vir Harlequins uit by die weermagbasis in Oudtshoorn. Die afgelope tyd was hy nie te wel nie en toe hy sterf, was dit verskriklik hartseer vir ons, maar ons gun hom ewige die rus."
Sasha vertel dat sy en Keanin high school sweet hearts is en dat hulle vir 13 jaar al bymekaar is.
Esau word oorleef deur sy vrou Sasha en kinders Shadrin, Scott en Kaycee asook sy susters Joslyn Jantjies, Franzelle Fransman en broer Romario Fransman. Hy was die seun van Petronella en Derrick Fransman.
Die begrafnis is Saterdag 18 Mei in Jupiterstraat (Toekomsrus) om 09:00 en 10:00 by die VGK.
Die naweek se groot derbywedstryd tussen Bridgton-rugbyklub en Harlequins word opgedra aan hom - hy was lid van beide klubs.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’