OUDTSHOORN NUUS - Die gedrag van motorbestuurders in die dorp het hierdie week weereens die nuus gehaal na 'n ernstige botsing Sondagoggend om 02:30 in St. Saviourstraat. 'n Nissan-bakkie en 'n Nissan Micra het mekaar op die hoek van St. Saviour- en Condorstraat getref.
Die Micra het deur die palissade van Helen Bellinganhof gebars en ongeveer 15 meter binne die perseel op sy dak bo-op 'n stutmuur te lande gekom.
Die bakkie het ook omgeslaan en op die sykant teen 'n betonpilaar aan die brand geslaan.
Volgens 'n paramedikus wat naby die toneel woon, het hy die voertuie gehoor aankom gevolg deur 'n slag, waarna hy na die toneel gehardloop het om hulp te verleen. Nog 'n paramedikus wat daar naby woon was vinnig op die toneel.
'n Vrou, wat reg oorkant die botsingstoneel woon, sê twee mans het uit die bakkie geklim toe sy daar aankom. Sy het teruggegaan huis toe om hulp te ontbied, maar met haar terugkeer na die toneel was die mans glo skoonveld.
Die bestuurder van die Micra het intussen uit die wrak geklim, maar sy vriendin het nog in die motor vasgesit. Nooddienswerkers het haar minute later bevry en albei hospitaal toe geneem.
Volgens een van die sekerheidswagte wat by Helen Bellinganhof diens doen was hy besig met patrollie op die perseel toe hy die slag gehoor het.
"Ek het die slag gehoor en iets wat klink soos metaal wat skuur en toe ek soontoe hardloop sien ek die vlamme."
Daar is op die toneel verneem dat een van die insittendes van die bakkie in 'n polisievoertuig was. Dit is nie seker of hy teruggekeer het na die toneel en of hy die heeltyd daar was nie. Sover vasgestel kon word, was hy nie die bestuurder nie.
Die bestuurder kon nie opgespoor word nie.
Die bakkie nadat die brand geblus is. Foto's: Hannes Visser
Volgens 'n groep jongmense wat op die toneel was, en volgens kommentare op Facebook was die insittendes van albei voertuie voor die botsing by 'n kuierplek in die omgewing.
Een van die voertuie het glo die ander een verbygesteek en hulle het mekaar getref toe een van hulle uit St. Saviourstraat by Condorstraat ingedraai het. Die palissade en 'n betonpilaar is deur die botsing vernietig.
Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, word 'n klag van roekelose en/of nalatige bestuur ondersoek.
Lees 'n verwante artikel: Twee slegs lig beseer
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'