OUDTSHOORN NUUS - Vandat sy kon onthou het stories haar gefassineer, dit was haar ontvlugting na interessante plekke en soms was dit die karakters waarmee sy haarself kon vereenselwig.
So vertel Elizabeth Eksteen (22) van De Rust. Sy het onlangs haar eerste boek, Behind the Mask, bekendgestel.
Op 14-jarige ouderdom het Eksteen besluit sy gaan haar eie stories skryf en vandaar het Behind the Mask ontstaan.
"Stories is deel van wie ek is. Mens kan soveel doen, en skep met woorde en soveel wêrelde oopmaak en beskryf. My ouers het altyd vir my stories vertel. Behind the Mask het aanvanklik as 'n reeks ontstaan en vir publikasie doeleindes het ek dit toe in een boek ingewerk."
Volgens Eksteen is dit 'n fiksie boek wat handel oor 'n 16-jarige meisie, Jane, wat nooit kon inpas nie en hoe ouer sy geword het hoe meer het sy dit besef.
"Sy het vreemde dinge omtrent haarself ontdek en drome gehad wat dikwels waar geword het. Sy moes die keuse maak om te word wie sy is en het op daardie manier haarself ontdek en vasgestel waar sy hoort."
Eksteen sê hoewel haar karakters jong mense is beskou sy die boek nie uitsluitlik as 'n tienerboek nie, maar kan volwassenes ook die boek geniet.
"Die skryfstyl en temas is geskik vir enigeen. Die temas waarop gefokus word, soos eensaamheid, identiteit en die maskers wat deur almal gedra word is universele probleme."
Eksteen sê dat die boek haar ook gehelp het om sin te maak van haar eie lewe.
"Ek het tuisonderrig ontvang en het nog nooit werklik tuis gevoel saam met ander van my portuurgroep nie. Ek het dus ook tye beleef waar ek alleen en dalk verstoot gevoel het. Deur te skryf het ek daaraan uiting gegee en kon baie dinge weer vir my sin maak."
Volgens haar was die ontstaan van die boek 'n lang proses, maar definitief die moeite werd.
Elizabeth Eksteen se handgeskrewe notas vir haar boek.
"Ek het in 'n lyntjiesboek met die hand geskryf. Van heel bo na heel onder in ongeveer drie sinne per reël - dit is baie klein geskryf. Ek moes dit als oortik. Die karakters moes met tyd ook verander van waar my 14-jarige verstand hulle gehad het tot bietjie ouer en meer volwasse. "Onderrigwerk en stokperdjies het ook bietjie in die pad gekom, maar omdat ek projekte móét klaarmaak, het ek geweet hierdie een moet ook klaar."
Eksteen sê haar ouers se ondersteuning was haar grootste motivering om klaar te maak.
"Hulle het elke weergawe gehoor."
Deel van haar trots is die feit dat sy die karakters self geteken het en die temalied vir die boek self geskryf het.
Die boek, sowel as sketse van die karakters en die temalied is op haar webtuiste www.ironfoeniks.co.za beskikbaar.
Gedrukte kopieë, sowel as 'n aanlynweergawe van die boek kan daar gekoop word.
Sy sê egter sy is nog nie seker of Jane se avonture sal voortgaan nie.
"Ek wil graag fokus op gedigte en ook om skryfskole aan te bied, ek dink daar lê terapie in om te skryf oor wat jy dink of voel of selfs onseker is oor. Dalk kan ek iemand op so 'n manier help."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’