OUDTSHOORN NUUS - "Daar is 'n tyd vir als in die lewe. Dis maar hartseer, want dit voel amper soos die einde van 'n legacy."
So vertel Lo-Anne Oosthuizen oor hul familiebesigheid wat Vrydag na 33 jaar in Oudtshoorn sy deure sluit.
Dina en Oosie Oosthuizen het Paradise Pets, Sports & Tackle in 1991 oopgemaak. 'n Jaar later is Lo-Ann gebore.
"Ek het agter die toonbank grootgeword. Dié winkel was wat ek geken het, maar dit is nou tyd dat my ouers se lewe rustiger raak," vertel sy.
Volgens haar was die winkel se eerste perseel ook in Kerkstraat, maar 'n paar winkels verder as waar hy tans is.
"Soos die winkel uitgebrei het, en ons meer spasie gekort het, het hulle geskuif na Kerkstraat 115 waar ons nou is. Ons het toe net met diere toebehore en troeteldiere handel gedryf. Ek het in 2018 met sporttoerusting begin en my pa het kort daarna hengelgereedskap ook ingebring."
Die winkel sluit amptelik Vrydag sy deure. Foto: Liezl van Niekerk
Lo-Ann vertel dat die besluit vir hulle as gesin moeilik was, maar dat dit tyd is.
"Dit was 'n voorreg om die Oudtshoorniete te kon bedien vir soveel jaar. Dit was lekker om mense raad te gee en te kon help. Ons het natuurlik swaar gekry met Covid, maar soos tye verander het en items en inligting makliker aanlyn beskikbaar geword het, het tye moeiliker geword. Dit is tyd, en dit skep weer ruimte vir nuwe uitdagings wat aangepak kan word."
Lo-Anne sê sy gaan voort as CrossFit-afrigter en die aanbied van karateklasse.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’