Update
OUDTSHOORN NUUS - Die eiendomsagent wat na bewering derduisende rande van huishuurders in sy eie sak gesteek het, kruip nie weg nie en het ook nie die dorp verlaat nie.
Jacques Fourie het Dinsdag hierdie versekering aan die Oudtshoorn Courant gegee tydens 'n besoek aan sy huis. "Ek is besig om te kyk hoe ek mense se geld kan terugbetaal en ek gee my volle samewerking aan die polisie. Ek hardloop nie weg nie," het hy gesê.
Hy het gesê dat hy tans onder sterk medikasie en psigiatriese sorg is en nie op spesifieke vrae kan reageer nie.
Die Oudtshoorn Courant het twee weke gelede berig dat huurders wat huise deur Fourie, wie se naam op daardie stadium nie bekend gemaak is nie, gehuur het glo nie die huise kon betrek nie. Dit nadat hulle deposito's betaal het en ook nie hulle deposito's teruggekry het nie.
Nadat die berig verskyn het, het verskeie mense die koerant gekontak en dit was duidelik dat daar 'n hele aantal mense is wat op hierdie stadium vrees dat hulle hul geld kwyt is. Een van die persone wat die koerant gekontak het, is 'n onderwyser van Oudtshoorn wat 'n huis op die dorp verhuur en besef het die geld wat huurders in Fourie se "trustrekening" inbetaal het, nie aangewend word vir die doel waarvoor dit inbetaal is nie.
Nog 'n persoon wat in Kaapstad woon het laat weet dat munisipale dienstegeld wat huurders inbetaal het nie aan die munisipaliteit oorbetaal is nie. "Ek het geen ander keuse gehad as om vir die huurders te sê hulle moet voortaan alle gelde direk in my bankrekening inbetaal nie," het die vrou gesê.
'n Derde persoon wat 'n eiendom deur Fourie verhuur het, het gesê geld wat deur huurders in Fourie se "trustrekening" by Capitec inbetaal is, is nie aan hom oorbetaal nie. Volgens 'n woordvoerder van Capitec met wie die Oudtshoorn Courant telefonies gepraat het, het Capitec nie trustrekeninge of besigheidsrekeninge nie. "Ons open spaarrekeninge vir privaat kliënte. Daar is wel opsies om geld vir langer periodes te belê, maar trustrekeninge is nie een van ons produkte nie."
Alhoewel Fourie nie oor spesifieke sake wou praat nie, het hy gesê hy probeer die dringendste sake eers aanspreek. Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie is hulle bewus van sewe klaers en is daar ongeveer R73 000 by die sake betrokke.
By die vorige berig is genoem dat Fourie se naam weerhou word totdat daar 'n hofverskyning is. Op regsadvies en in openbare belang is daar egter besluit om sy naam wel bekend te maak indien hy geleentheid gegun word om sy kant van die saak te stel.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'