OUDTSHOORN NUUS - Ná 16 jaar se diens aan diere in nood staan Animal Care Team (ACT) op die drumpel van 'n mylpaal wat die versorging van diere in die groter Oudtshoorn ingrypend kan verander.
Die organisasie sonder winsoogmerk het aangekondig dat sy eerste gemeenskapsdierekliniek vroeg volgende jaar amptelik sy deure sal open. Die kliniek, by Oostelike Weg 6, sal bekostigbare veeartsenydienste aan minderbevoorregte inwoners van Oudtshoorn en omliggende gebiede bied.
Volgens Elmarie Leach-Swiegers, kliniek-koördineerder, en voorsitter van ACT, was die opening van 'n gemeenskapskliniek nog altyd hul grootste droom.
"Ons sou reeds verlede jaar oopgemaak het nadat ons na ons nuwe perseel verhuis het, maar weens omstandighede kon die veearts nie by ons aansluit nie. Ons moes eers weer 'n veearts kry. Die nuwe verpligte gemeenskapsdiens-veearts sluit in Januarie by ons aan, waarna ons die kliniek ten volle met volledige veeartsenydienste kan open. Dit gaan daaroor om diere 'n kans op 'n gesonder lewe te gee en om hul eienaars met waardigheid te ondersteun."
Hulle bekostigbare veeartsenydienstedienste sal sterilisasies, noodgevalle, operasies, mediese behandeling en voorkomende sorg insluit.
"Die behoefte aan hierdie dienste in ons streek is enorm, en ons glo hierdie projek gaan 'n betekenisvolle en blywende impak hê."
Vir baie huishoudings sal dit die eerste keer wees dat hulle toegang het tot professionele veeartsenysorg teen bekostigbare tariewe.
VIDEO: Oudtshoorn kry eerste gemeenskapsdierekliniek
Volgens Leach-Swiegers is sterilisasies die organisasie se grootste prioriteit.
"Ons wil so veel as moontlik honde en katte steriliseer om ongewenste werpsels te voorkom. Minder ongewenste diere beteken minder verwaarlosing."
ACT bied reeds weekliks sterilisasies vir honde en katte aan, asook inentings, wondbehandeling, genadedood waar nodig en voerprogramme vir diere in behoeftige gemeenskappe.
Met die opening van die kliniek sal die organisasie egter aansienlik meer diere kan behandel en 'n wyer reeks dienste kan lewer.
Hoewel dit 'n gemeenskapskliniek is, beklemtoon Leach-Swiegers dat die dienste nie gratis sal wees nie.
"Ons moet steeds medisyne, mediese toerusting, huur, water en elektrisiteit betaal. Ons kry ook geen hulp van munisipaliteite of die staat nie. Ons kan dit net doen deur donasies en deur inwoners wat vir ons dienste betaal."
Sy sê dat die kliniek spesifiek gerig is op mense wat Sassa-toelaes ontvang, pensioenarisse, werklose inwoners, individue wat R3 500 of minder per maand verdien en huishoudings met 'n inkomste van minder as R10 000 per maand.
Hoewel die grootste deel van die kliniek se toerusting reeds aangeskaf is, is daar steeds 'n behoefte aan belangrike items soos sterilisasiestelle, operasieligte en ander noodsaaklike kliniektoerusting voordat die kliniek volledig operasioneel kan wees.
Om fondse in te samel, verkoop ACT elke Saterdag worsbroodjies buite Build It. Die organisasie bied ook op Saterdag 25 Julie 'n sop-en-sjerrie-aand aan. Kaartjies kos R70 per persoon.
Mense wat ACT wil ondersteun of by die organisasie betrokke wil raak, kan Tanya Harris by 082 390 4865 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’