OUDTSHOORN NUUS - Afvalbestuur in Suid-Afrika is nie so eenvoudig as wat dit op die oog af lyk nie. Dit is 'n komplekse wetenskap wat, as dit nie reg hanteer word nie, uiterste nadelige gevolge vir alle landsburgers kan inhou.
Volgens Marillia Veldkornet, mediaskakelbeampte van Eden-distriksmunisipaliteit, is dit juis oor hierdie rede waarom Eden DM afvalbestuur as uiters belangrik beskou. "Die munisipaliteit is een van die leiers in die Wes-Kaap wanneer afvalbestuur kwessies ter sprake kom," het sy gesê.
Met die nuwe streekafvalterrein naby PetroSA in Mosselbaai, wat volgens beplanning in 2019 deur B-munisipaliteite gebruik gaan word, poog Eden DM om toe te sien dat alle doelwitte van die afvalbestuurstrategie, bereik word. Afvalbestuur bied egter unieke uitdagings aan alle betrokkenes.
Die kompleksiteit van die verskillende tipe afval wat in normale huishoudelike afval voorkom het 'n direkte impak op die kompleksiteit van afvalbestuur, veral ten opsigte van gevaarhoudende afvalprodukte.
Die historiese agterstand in veral informele woongebiede het ook 'n invloed, asook beperkte kennis oor hoofstroom afval op nasionale vlak weens 'n gebrek aan inligting.
Ander invloede sluit in 'n gebrek aan infrastruktuur in sekere dorpe ten opsigte van die sortering van afval vir herwinning by die afvalbron. Die infrastruktuur vir herwinning is onder toenemende druk weens 'n gebrek aan kapitale investering en onderhoud.
Vir 'n hele aantal mense is die stortingsterrein in Oudtshoorn hulle daaglikse tuiste. Foto's: Hannes Visser
Volgens Veldkornet is die meeste verbruikers onbewus van die hoë koste van afvalverwydering en verkies gewone storting bo ander meer omgewingsvriendelike metodes van afvalbeskikking. "Min afvalbehandelingsopsies is beskikbaar en dit verhoog dus die kostes vir die veilige beskikking van afval."
Verminder afval en herwin
Ten einde bogenoemde probleme die hoof te bied, onderskryf Eden DM die nasionale afvalbestuurstrategie wat ten doel het om inwoners aan te moedig om afval te verminder, te hergebruik en te herwin. Verder moet munisipale afvalverwydering effektief en genoegsaam uitgevoer word en die afvalsektor moet deel van die "groen ekonomie" word.
Ander doelstellings is om te verseker dat afvalbestuur landwyd geïntegreer word met ander munisipale funksies, om te sorg dat genoegsame fondse beskikbaar is deur daarvoor te begroot. Maatreëls en stappe sal ook ingestel moet word om ou vullisterreine te rehabiliteer.
Ten einde die doelwitte te bereik, is Eden-distriksmunisipaliteit in voortdurende kontak met alle rolspelers in die bedryf, naamlik: plaaslike regering (munisipaliteite van Bitou, Knysna, George, Mosselbaai, Hessequa, Kannaland en Oudtshoorn), Wes-Kaapse provinsiale regering, waaronder die departement van omgewingsake, asook privaat instansies.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'