Update
DYSSELSDORP NUUS - Bekommerde en ongelukkige grondeisers van Dysselsdorp, wat al jare wag vir die uitbetaling van grondeise, sê die tyd het nou aangebreek vir die Grondeisekommissie om antwoorde te verskaf. "Ons wil weet waarom die grondeiseproses sedert 2000 - nog nie afgehandel is nie."
Een van die inwoners wat aandring op antwoorde is Ivy Cornelius. "Eisers sterf voordat hulle hul regmatige uitbetalings en vergoeding ontvang. Hoekom betaal hulle ons nie uit nie?"
Die ontevredenes wil ook weet waarom die eisers van Bloupunt se gronde nog nie aan hulle teruggegee is, soos destyds deur minister Didiza belowe is nie.
Talle vrae is onbeantwoord soos waarom bewyse (vouchers) aan eisers uitgegee is, maar geen betalings is deur Absa Bank gemaak nie, waarom eisers elke drie maande aansoeke moet hernu, wat het gebeur nadat die eisers in Junie/Julie 2017 lêers hernu het, wat het gebeur met die uitbetalings wat op 6 Desember 2017 sou plaasvind en vele meer.
Die ontevredenes wil ook weet waarom eisers deur lede van die Dysselsdorp-grondeisekomitee versoek is om glo hul persoonlike besonderhede op "blanko" vorms aan te bring en te onderteken sonder 'n kommissiestempel. Die eisers is glo belowe dat hulle hul uitbetalings sal kry as hul teken, maar tot op hede geen betaling ontvang nie.
Daar word ook gevra waarom daar tans drie afsonderlike grondeisekomitees in Dysselsdorp bedrywig is wat deur drie inwoners van Dysselsdorp bedryf word.
"Ons wil weet watter groep is wettig en of die Grondeisekommissie daarvan kennis dra," sê Cornelius.
Volgens Vuyani Nkasayi, woordvoerder van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming, is die departement tans besig met 'n interne oudit van die Dysselsdorp eis. Volgens hom is primêre eiser in Augustus 2017 versoek om nuwe gesertifiseerde dokumente in te dien en dat die proses teen die einde van Augustus vanjaar afgehandel te wees.
Van die redes vir die vertraging is dat familiestambome wat ingedien is, teenstrydig is, eisers nie familielede wil erken nie en eisers wat nie kontak het met ander begunstigdes nie. Daar is ook eisers wat navorsingbevindings betwyfel en daarop aandring dat hulle die wettige grondeienaars was, hoewel dit nie geverivieer kan word nie.
Daar is glo ook eisers wat nie voldoende agtergrondinligting kan verskaf vir die prosessering van hul eise nie.
Nog 'n probleem waarmee die departement volgens Nkasayi worstel is uitstaande identiteitsdokumente.
Lees 'n vorige artikel: Grondeisers soek antwoorde
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'