DYSSELSDORP NUUS - Inwoners van Dysselsdorp wat reeds sedert 2000 wag dat grondeise afgehandel word, wil antwoorde by die Grondeisekommissie hê.
Een van die inwoners wat aandring op antwoorde is Ivy Cornelius wat sê dis onanvaarbaar dat sommige eisers sterf voordat hulle regmatige uitbetalings wat verskuldig is kon ontvang.
Talle vrae is onbeantwoord soos waarom bewyse aan eisers uitgegee is, maar geen betalings is deur die bank gemaak nie, waarom eisers elke drie maande aansoeke moet hernu, wat het gebeur nadat die eisers in Junie/Julie 2017 lêers hernu het, wat het gebeur met die uitbetalings wat op 6 Desember 2017 sou plaasvind en vele meer.
Die ontevredenes wil ook weet waarom eisers deur lede van die Dysselsdorp-grondeisekomitee versoek is om glo hul persoonlike besonderhede op “blanko” vorms aan te bring en te onderteken sonder 'n kommissiestempel.
Volgens Vuyani Nkasayi, woordvoerder van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming, is die departement tans besig met 'n interne oudit van die Dysselsdorp eis. Volgens hom is primêre eiser in Augustus 2017 versoek om nuwe gesertifiseerde dokumente in te dien en dat die proses teen die einde van Augustus vanjaar afgehandel behoort te wees."
Volgens hom is daar verskeie redes vir die vertraging. Van die redes is dat familiestambome wat ingedien is, teenstrydig is, eisers nie familielede wil erken nie en eisers nie kontak het met ander begunstigdes nie.
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'