DYSSELSDORP NUUS - Denowin Ruiters (25), 'n oudleerder van Dysselsdorp Sekondêr het onlangs sy Baccalaureus in geneeskunde en Baccalaureus in snykunde (MBChB) voltooi.
Ruiters het in 2016 gematrikuleer en in 2017 by die Universiteit Stellenbosch met sy mediese graad begin.
"Ek het 'n liefde vir chirurgie ontwikkel. My groot droom is om 'n hartchirurg te word."
Ruiters sê vir die droom om te realiseer lê daar nog 'n lang pad voor.
"Ek moet eers 'n twee jaar internskap doen, dan moet ek 'n jaar as gemeenskapsdokter voltooi waarna ek 'n mediese beampte word. Ek sal ook 'n vier jaar program moet voltooi en dan nog drie jaar werk."
Volgens hom wil hy graag oorsee gaan praktiseer.
"Ek wil dalk Engeland of Kanada toe gaan, maar wil definitief terug kom Suid-Afrika toe."
'Ons bring jou die nuutste Kannaland, Klein Karoo nuus'