DYSSELSDORP NUUS - Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het aangekondig dat die tussenverkiesing in Dysselsdorp op Woensdag 24 April sal plaasvind.
Dit volg na Chad Louw einde Februarie as ANC-raadslid bedank het en hom by die PA (Patriotic Alliance) aangesluit het. Louw was 'n verkose raadslid.
Die persone wat hulself vir die tussenverkiesing verkiesbaar gestel het, is Samantha Octavia Damons (ANC), Nonzingo Leticia Mntwini (EFF), Bertram Jantjies (PA) en Eben Trevor Basson (onafhanklike kandidaat).
Volgens Michael Hendrickse, die OVK-verkiesingsbeampte in die Wes-Kaap, is daar tans 4 175 geregistreerde kiesers in wyk 9 wat geregtig is om aan hierdie tussenverkiesing deel te neem.
"Dit is belangrik om daarop te let dat slegs kiesers wat geregistreer is, en in wyk 9 woonagtig is, sal kan stem."
Volgens hom maak die stemlokale om 07:00 oop en sluit om 21:00, maar alle kiesers in die ry sal teen die afsnytyd toegelaat word om hul stemme uit te bring. Alle kiesers moet in besit wees van óf 'n groen strepieskode ID, 'n slimkaart-ID of 'n geldige tydelike identiteitsertifikaat om toegelaat te word om te stem.
Samantha Damons
Eben Trevor Basson
Spesiale stemme vir hierdie tussenverkiesing vind Dinsdag 23 April plaas.
"Slegs kiesers wat aansoek gedoen het en vir spesiale stemming goedgekeur is, sal vanaf 08:00 tot 17:00 hul stem by die stemlokaal kan uitbring. Hierdie ure is ook van toepassing op dié wat deur OVK-amptenare vir huisbesoeke goedgekeur is."
Bertram Jantjies
Die stemlokale is as volg:
- Dysselsdorp Sekondêr
- Kolping Huis
- Volkskerk
- Rodewal UCC Primêr
Vir meer inligting kan die plaaslike munisipale OVK-kantoor op weeksdae gedurende kantoorure by 044 272 0398 geskakel word.
Jou registrasiestatus kan aanlyn nagegaan word by www.elections.org.za of alternatiewelik, SMS jou ID-nommer na 32810 teen 'n koste van R1 per SMS of WhatsApp Hi na ons WhatsApp Chatbot by 060 088 0000.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’