OUDTSHOORN NUUS - Inwoners van Asla-woonbuurt in Dysselsdorp het Vrydag 27 Junie 'n vreedsame betoging gehou weens 'n tekort aan behuising. Die groep het 'n griefskrif aan die Oudtshoorn-burgemeester, Johan Allers, oorhandig.
Inwoners van 39 gedienste erwe in die Asla-woonbuurt het gekwalifiseer vir gedienste erwe omdat hulle deel was van die oorspronklike behuisingsprojek wat in 2018 uitgerol is.
In gesprek met 'n inwoner, wat verkies om anoniem te bly, het hulle aansoeke op een of ander manier teruggekom waarin hulle meegedeel is dat hulle nie vir huise kwalifiseer nie, maar wel vir gedienste erwe.
"Eerstens wil ons weet wat is die totale bedrag wat die regering geallokeer het per gedienste erf. Ons wil die inligting weet aangesien elke eienaar van 'n gedienste erf, slegs R2 000 vanaf Asla Devco ontvang het."
"Tweedens het die Wes-Kaapse provinsiale minister van menslike nedersettings, Tertuis Simmers, ons hele gemeenskap persoonlik meegedeel dat inwoners wat uit strukture verskuif word, nie weer in strukture geplaas sal word nie. Daar moet dus 'n verbetering in die inwoners se behuisingsposisie wees, wat nie die geval is met die inwoners van die gedienste erwe in Dysselsdorp nie."
Die vraag wat die inwoners vra is - hoe hulle met 'n R2 000-toelaag enige noemenswaardige verskil in hul huidige behuisingsomstandighede moet maak?
"Ons wil ook weet waarom inwoners van Stilbaai, wat gekwalifiseer het vir gedienste erwe, 'n geboude struktuur kry wat bestaan uit 'n volledige dak, ingeboude toilet, waar hulle net die buite- en binnemure moes voltooi?"
Volgens die inwoners het Dysselsdorpers slegs 'n leë erf met net 'n toilet wat eenkant staan en R2 000 ontvang.
"Waarom verskil die projekte dan so drasties van mekaar, terwyl dieselfde boukontrakteurs, Asla, albei projekte gedoen het?"
Inwoners is van mening dat hulle vir gekke gehou word, terwyl behuisingsbeamptes in Oudtshoorn-munisipaliteit gemoeid met behuising met verskillende scenario's rondom die installering van elektrisiteitsmeters in die strukture na vore kom. "Elke dag het hulle 'n ander storie om te vertel. Ons bly nou al drie maande sonder elektrisiteit in die donker en koue."
Navrae is aan Melt Botes, woordvoerder vir die provinsiale minister van menslike nedersettings, Tertius Simmers, sowel as Oudtshoorn-burgemeester, Johan Allers gerig. Teen saktyd is geen terugvoer ontvang nie. Dit sal wel aanlyn bygewerk word sodra dit ontvang is.
Kommentaar vanaf die departement menslike nedersetting:
Gerhard Hanekom, direkteur: streekondersteuning vir menslike nedersettings - Tuinroete en Sentraal-Karoo het as volg geantwoord op 'n media navraag rakende die Dysselsdorp-behuisingsprojek:
Die toekenning van die finale 24 huise en 39 gedienste erwe was spesifiek gereserveer vir oorspronklike begunstigdes wat ten tye van die aanvang van die projek in die informele nedersetting gewoon het.
Hierdie individue het deel gevorm van die oorspronklike begunstigdeslys en is altyd bedoel om ingesluit te word in die laaste fase van die projek. Slegs daardie inwoners wat geverifieer is om in die nedersetting te gewoon het tydens die aanvang van die projek, het dus vir die toekenning gekwalifiseer.
Neem asseblief kennis dat die subsidie vir gedienste erwe slegs voorsiening maak vir eksterne siviele ingenieursdienste - naamlik water, riool, stormwater en paaie. Dit sluit nie enige ondersteuning met betrekking tot top-strukture in nie. Elektrisiteitsaansluitings, wat gewoonlik by sulke projekte ingesluit is, word apart befonds en gekoördineer, en word nie uit die behuisingstoelaag gefinansier nie.
Die begunstigdes van die 39 gedienste erwe in Dysselsdorp het in hierdie geval nie net dié basiese dienste ontvang nie, maar verbeterde gedienste erwe, asook ondersteuning met hervestiging. Die verbeterde erwe sluit bykomende geriewe soos 'n vooraf geïnstalleerde spoeltoilet, wasbak en wasgoot in, tesame met die basiese dienste soos water, sanitasie en elektrisiteit. Hierdie addisionele voorsienings is reeds daarop gemik om lewensomstandighede te verbeter en begunstigdes in staat te stel om hul eie huise in ‘n meer volhoubare en ondersteunende omgewing op te rig.
Verder het begunstigdes ook hervestigingshulp ontvang. Gewoonlik word hierdie hulp voorsien in die vorm van logistieke ondersteuning en, waar nodig, basiese boumateriaal vir tydelike strukture, deur die munisipaliteit. In hierdie geval het die munisipaliteit en sy Implementeringsagent gekies om die hervestigingstoelae van R2 000 direk aan begunstigdes te bied om hulle te help met die hervestiging van die informele nedersetting na hul nuwe, permanente gedienste erwe.
Wat betref die aangeleentheid van die vertraging in elektrisiteitsvoorsiening op die gedienste erwe. Neem asseblief kennis dat elektriese konneksies apart van die departement se behuisingstoelaag befonds en gekoördineer word.
Die munisipaliteit het bevestig dat daar ongelukkig 'n misverstand ontstaan het tussen die implementeringsagent en die munisipale infrastruktuurafdeling, spesifiek ten opsigte van die installering van 'ready boards'. Wees verseker dat die munisipaliteit tans aktief saam met hul implementeringsagent werk om die aangeleentheid so doeltreffend en spoedig as moontlik op te los.
Met verwysing na die behuisingsprojek in Stilbaai en die geassosieer erwe en eenhede waarna verwys is: neem asseblief kennis dat hierdie sogenaamde inkrementele eenhede deel uitmaak van ’n loodsprojek wat spesifiek geteiken is op die First Home Finance-program. Hierdie eenhede is nie bedoel vir kwalifiseerdes van gewone gedienste erwe, soos deur die ontevrede begunstigdes beweer word nie.
Die 'First Home Finance-program' is ontwikkel om volhoubare en bekostigbare eerste-keer huiseienaarskap moontlikhede te bied aan Suid-Afrikaanse burgers en wettige permanente inwoners met ‘n huishoudelike inkomste van R3 501 tot R22 000 per maand.
Hierdie inkomste-groep - algemeen bekend as die “affordable” of “gap”-mark - kwalifiseer gewoonlik nie vir verbandfinansiering nie, aangesien hul inkomste as te laag vir kommersiële lenings, maar te hoog vir 'n ten volle gesubsidieerde staatswonings (soos RDP- of BNG-huise) beskou word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’