OUDTSHOORN NUUS - Die Dysselsdorp-gemeenskapspolisië-ringsforum (GPF) het Woensdag 28 Mei 'n suksesvolle inligtingsimbizo by die Dysselsdorp Thusong-sentrum aangebied.
Die twee hoofpunte op die agenda was om die distriksbevelvoerder, genl. Phumzile Cetyana en die Dysselsdorp-stasiebevelvoerder, kapt. Xhanga aan die gemeenskap bekend te stel, asook om geleentheid te skep vir kwellende vrae oor veiligheid en sekuriteit in Dysselsdorp.
Verskillende gemeenskapsorganisasies waaronder plaaslike kerke, sportklubs, raadslede en gewone inwoners het die vergadering bygewoon.
Daar is 'n verskeidenheid vrae waaronder polisiemannekrag, voertuie, publieke ontspanning, alkoholmisbruik en die verhouding tussen die gemeenskap en die polisie geopper. Inwoners se vrae is beantwoord en 'n belofte is gemaak dat werk gemaak sal word van leemtes wat deur die interaksie geïdentifiseer is.
George Meyer, die GPF-voorsitter vir Dysselsdorp het die program gelei en het gemeenskapslede wat nie die vergadering kon bywoon nie, gevra om steeds hul opinies en insette te lewer deur die GPF-bestuur te kontak.
Meyer het ook 'n beroep op die gemeenskap gedoen om met inligting na vore te kom rakende die baba wat verbrand is.
"Die gemeenskap kan verseker wees dat daar opgetree sal word, asook om dwelmhandel hok te slaan en onwettige spazawinkels.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’