Update
OUDTSHOORN NUUS - Sestien verdagtes, wat onderskeidelik met 'n dwelm- en geldwasserysindikaat verbind word, is op 16 Maart in hul wonings in die Suid-Kaap en Gqeberha, tydens 'n reeks klopjagte, in hegtenis geneem.
Die 16 verdagtes staan op aanklagte van onderskeidelik dwelmhandel, geldwassery en rampokkery, tereg.
FOTOGALERY: Verdagtes betrokke by dwelmhandel, geldwassery en rampokkery
Volgens Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke, is sewe verdagtes in Oudtshoorn, drie in George, een in Gqeberha, een in Ladismith, twee in De Rust en twee in Calitzdorp, in hegtenis geneem - almal tussen die ouderdom van 32 en 58 jaar oud.
Sy sê dat die hoofverdagte, Manfred John (36), glo al jare lank in die Oudtshoorn-omgewing met dwelms handel.
"Die ondersoek het oor 'n geruime tydperk gestrek en het die ondersoekspan gehelp om insig in die kriminele aktiwiteite van die sindikaat te kon kry. Dit het tot die suksesvolle inhegtenisneming van al die beskuldigdes gelei," vertel Hani.
Sy sê dat lasbriewe deur 'n multidissiplinêre span uitgereik is onder leiding van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (Valke) in die Wes-Kaap saam met misdaad-intelligensie, Oudtshoorn K9-eenheid, distriksmisdaadbestrydingspan, openbare orde-polisiëringseenheid (Pops) asook die Valke-spanne in George, Beaufort-Wes en Oos-Kaap, die arrestasies uitgevoer het.
Hani sê dat hierdie dwelmsindikaat die Suid-Kaap streek beheer het en hulle hoofsaaklik die Tuinroete-distrik, naamlik George, De Rust, Oudtshoorn, Ladismith, Pacaltsdorp en Calitzdorp, geteiken het - waarvan die hoofverskaffers van George en Gqeberha is.
Verdagtes verskyn in hof
Die 16 verdagtes het op 17 Maart hul eerste verskyning in die Oudtshoorn-landdroshof voor landdros Vaughn Shone gemaak. Drie van die verdagtes het toe reeds regsverteenwoordigers gehad, maar die saak is tot 20 Maart uitgestel sodat die ander 13 verdagtes 'n regsverteenwoordiger kon aanstel.
Op Maandag het al 16 verdagtes weer voor Shone verskyn - al die beskuldigdes gaan 'n aansoek om formele borgtog op 27 Maart bring.
Al die verdagtes bly in aanhouding behalwe Adams wat op waarskuwing vrygelaat is omdat sy 'n drie weke oue baba het.
Verdagtes:
- Manfred John (36)
- Marshal Mclune (32)
- Madalyna Adams (26)
- Vincent Goba (49)
- August Wild (48)
- Ann Erasmus (58)
- Vivian Arries (46)
- Wilburg Paulsen (39)
- Arlington Hurling (40)
- Shaun Hendricks (40)
- Chantelle Manewill (26)
- Louis Emezo (36)
- Malvin Jacobs (44)
- Reginald Felies (58)
- Vladimir Gordon (36)
- Emile Jonas (onbekend)
Staatsaanklaer Brandon Smith wat die staat op 20 Maart verteenwoordig het, sal moontlik die uitstel en borgtogaansoeke behartig.
Die saak is tot 27 Maart uitgestel.
Vorige artikel: 16 in court for involvement in drug-trafficking syndicate
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’