LADISMITH NUUS - Twee verdagtes het Dinsdag in die Ladismith-landdroshof verskyn na lede van die Ladismith-polisie dwelms ter waarde van R29 000, in twee afsonderlike voorvalle, by hulle gekonfiskeer het.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die lede Sondag 'n voertuig op die R62 tussen Ladismith en Barrydale deursoek en 'n taxi gesien.
"Hulle het die taxi ook deursoek en dwelms in die bagasie van 'n 23-jarige passasier gevind. Die polisie het 300 Mandrax-tablette en twee pakkies dagga ter waarde van R20 000 gevind. Die verdagte is dadelik in hegtenis geneem."
Nog 'n verdagte is Maandag 14 Junie in Koenzestraat in hegtenis geneem.
"Die polisie het 180 strooitjies tik in 'n pyp in 'n Wendy-huis gevind. Die dwelms is gekonfiskeer en 'n 65-jarige man is in hegtenis geneem. 'n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die dwelms in Ladismith versprei sou word."
180 tik-strooitjies is by 'n huis in Ladismith gekonfiskeer.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'