Update
OUDTSHOORN NUUS - Twee verdagtes is Woensdagnag deur die polisie hospitaal toe vergesel na 'n botsing in Voortrekkerweg kort voor middernag. Klagtes van dronkbestuur en die besit van dwelms word deur die polisie ondersoek.
Die wit Hyundai Elantra waarin die twee verdagtes was het in Voortrekkerweg buite beheer geraak, oor die middelmannetjie gery, deur 'n palissadeheining geploeg en tot in die parkeerterrein van die De Jager-sportkompleks gerol.
Met die aankoms van die Oudtshoorn Courant op die toneel was die verdagtes, wat lig beseer is, reeds onder polisiebewaking hospitaal toe geneem.
Die motor was 'n algehele wrak en die parkeerterrein was besaai met glas, olie en stukke van die verwoeste heining. Daar was ook bierbottels op die toneel.
Beamptes op die toneel het aangedui dat die polisie sakkies met 'n groen inhoud in die motor gevind het.
Sers. Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het bevestig dat dagga in die voertuig gevind is en dat klagtes van dronkbestuur en besit van dwelms ondersoek word.
Lees 'n vorige artikel | Ongeluk: Drank en spoed dalk oorsaak
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'