Update
KLEIN KAROO NUUS - Daar is bevestig dat daar Duif Newcastle-siekte (paramyxo-virus) op Oudtshoorn is en dit die oorsaak is vir die vrektes van duiwe in tuine.
So sê dr. Adriaan Olivier, 'n veearts by die volstruisbesigheidskamer op Oudtshoorn.
Volgens hom is toetse op dooie duiwe gedoen na inwoners hom ingelig het dat duiwe in tuine vrek. Duif Newcastle-siekte is 'n redelik algemene virus wat regoor die land voorkom.
"Inwoners hoef egter glad nie bekommerd te wees oor die siekte nie. Dit is wel van toepassing op mense wat sier- en wedvlugduiwe, sowel as hoenders het. Daar word sterk aanbeveel dat dié diere geënt word. Vir die gewone mens om duiwe wat natuurlik voorkom te ent is moeilik. Die siekte is 'n natuurlike proses en sal nie duiwe uitwis nie."
Volstruise kan, volgens Olivier, aansteek as hulle met besmette duiwe in aanraking kom, maar volstruise word "standaard geënt en is dus redelik beskerm teen die siekte."
Olivier sê mense moet die dooie duiwe met handskoene hanteer en begrawe of vernietig. Dit is ook nie gevaarlik vir honde of katte wat die duiwe sou vang nie.
Volgens hom is kenmerkende tekens van die siekte meestal senuwee-verwant soos hang vlerkies of koppies wat agtertoe val, maar kan dit ook asemhaling affekteer en maagwerkings in duiwe veroorsaak. Die virus is baie aansteeklik en taai en word, soos griep by mense deur 'n nies, of die mis wat agtergelaat word oorgedra. Ongelukkig is behandeling selde suksesvol.
Olivier beveel aan dat 'n Newcastle-entstof gekoop word.
"Kook 5 lt water en laat afkoel. Maak bottel oop en los pilletjie in water op. Gee vir duiwe en hoenders om te drink. Maak duiwe en hoenders dors deur laat middag water weg te neem en die water met entstof in tussen 7:00 tot 9:00 beskikbaar te maak. Die entstof is sonlig en hitte sensitief. Dit is egter iets wat elke ses weke moet gebeur."
Volgens Olivier is duiwe, ganse en hoenders die meeste vatbaar vir dié siekte, maar kan ander voëls dit ook kry wanneer hulle met die kiem in aanraking kom.
"Die siekte word makliker oorgedra wanneer dit in 'n vatbare populasie blootgestel word. Dit is ongelukkig so dat ons duifies swaarkry met die droogte en hulle al meer in mense se tuine begin soek na kos of water. Hulle kom dus makliker in aanraking met die siekte."
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'