OUDTSHOORN NUUS - Daar is bevestig dat daar Duif Newcastle-siekte (paramyxo-virus) in Oudtshoorn is en dat dit die oorsaak is vir die vrektes van duiwe in tuine.
So sê dr. Adriaan Olivier, ‘n veearts by die volstruisbesigheidskamer op Oudtshoorn.
Olivier het vanmiddag aan die Oudtshoorn Courant bevestig dat dié siekte wel in die dorp is.
“Ons het gehoor van duiwe wat in verskeie mense se tuine vrek en het toe toetse gedoen om te bevestig wat die virus is. Duif Newcastle-siekte is egter ‘n redelik algemene virus wat regoor die land voorkom.”
Volgens hom is kenmerkende tekens van die siekte meestal seunuwee-verwant soos hangvlerkies of koppies wat agtertoe val, maar kan dit ook asemhaling affekteer en maagwerkings in duiwe veroorsaak. Die virus is baie aansteeklik en taai en word, soos griep by mense, deur ‘n nies, of die mis wat agtergelaat word oorgedra. Ongelukkig is behandeling selde suksesvol.
Olivier beveel aan dat ‘n Newcastle-entstof gekoop word:
“Kook 5lt water en laat afkoel. Maak bottel oop en los pilletjie in water op. Gee vir duiwe en hoenders om te drink. Maak duiwe en hoenders dors deur laat middag water weg te neem en die water met entstof in tussen 07:00 en 09:00 beskikbaar te maak. Die entstof is sonlig- en hitte-sensitief. Dit is egter iets wat elke ses weke moet gebeur.”
Volgens Olivier is duiwe, ganse en hoenders die meeste vatbaar vir dié siekte, maar kan ander voëls dit ook kry wanneer hulle met die kiem in aanraking kom.
“Die siekte word makliker oorgedra wanneer dit in ‘n vatbare populasie blootgestel word. Dit is ongelukkig so dat ons duifies swaarkry met die droogte en hulle al meer in mense se tuine begin soek na kos of water. Hulle kom dus makliker in aanraking met die siekte.”
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'