OUDTSHOORN NUUS - Felix Lotter, hoof finansiële beampte van Oudtshoorn-munisipaliteit het Dinsdagaand tydens die besigheidskamer se netwerkaand verduidelik hoe 'n dorp se eiendomsbelasting bepaal word en waarom verskillende dorpe nie met mekaar vergelyk kan word nie.
Hier volg 'n verduideliking wat hy aan die Oudtshoorn Courant gestuur het:
Die vergelyking van slegs die eiendomsbe-lasting toegepas op 'n enkel waardasie is baie subjektief aangesien dit net twee faktore in aanmerking neem naamlik die tarief en 'n lukrake waardasie soos byvoorbeeld R1 miljoen.
Eiendomsbelastinginkomste het ten doel om algemene plaaslike owerheidsfunksies, verantwoordelikhede en pligte wat in terme van die munisipale mandaat soos in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika en ander munisipale wetgewing uiteengesit is te finansier.
Hierdie dienste is op 'n gelyke basis aan alle inwo-ners beskikbaar en die vlakke en gehalte van die dienste verskil hemelsbreed van area tot area en van dorp tot dorp.
Wanneer daar 'n vergelyking gedoen word, kan daar nie summier twee elemente uitgetrek word en dit dan op so 'n wyse vergelyk word en aan die groot klok gehang word nie, daar is legio faktore wat 'n rol speel in die bepaling van die eiendomsbelastingtarief en ook die gepaardgaande impak op die verbruiker en die belastingbetaler.
In die eerste plek is totale belastingbasis, met ander woorde die totale waarde van die onderskeie waardasierolle nie met mekaar vergelyk nie, die gemiddelde waarde per eiendom per dorp is ook nie vergelyk nie, die mate waarin nie-residensiële eiendomme 'n bydrae lewer tot die munisipale eiendomsbelastinginkomste is ook nie bereken nie, so ook nie die verhouding van residensiële tariewe tot ander kategorieë nie.
Die impak wat nywerhede, besighede en ander kategorieë eiendomme se belastingbydrae op die munisipaliteit se inkomste het word ook nie verdiskonteer nie.
Hierdie elemente beïnvloed die bepaling van tariewe en moet dus in berekening gebring word indien daar objektief na die aangeleentheid gekyk word.
Ander faktore wat ook in berekening gebring moet word is die mate waarin elke individuele munisipaliteit kruis-subsidiëring van dienste inkomste deur middel van tariewe doen, dit is duidelik nie in die vergelyking in berekening gebring nie. Dit is belangrik dat die spreekwoordelike "mandjie van dienste" gebruik word indien daar op 'n objektiewe manier 'n vergelyking getref wil word.
Dit is duidelik dat wanneer daar in geheel na die koste van dienste en belasting gekyk word dit 'n totale ander prentjie skets as slegs 'n vergelyking van 'n miljoen rand eiendom en 'n tarief.
Dit is ook belangrik om te vermeld dat daar ander munisipaliteite in die Wes-Kaap is wat hoër eiendomsbelastingtariewe as Oudtshoorn het, maar weereens moet die unieke omstandighede van daardie munisipaliteite in aanmerking geneem word en is so 'n tipe vergelyking onvanpas.
Ander ekonomiese faktore moet ook in berekening gebring word soos gemiddelde eiendomspryse, lewenskoste, toegang tot en beskikbaarheid van gemeenskapsfasiliteite ensovoorts.
Hou ook in gedagte dat 'n mens sekerlik nie vir R1 miljoen 'n soortgelyke huis in George, Mosselbaai en Oudtshoorn kan koop nie.
Lees 'n vorige artikel: Duidelikheid oor eiendomsbelasting
ARTIKEL EN FOTO: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'