Meer as 20 vrywilligers van Oudtshoorn en Blomnek het deelgeneem aan die boomplantdag.
Die inisiatief is begin deur dr. Suzanne Delport as ‘n vertakking van De Rust se jaarlikse eko-blommefees.
Oudtshoorniet en natuuraktivis Charles Basson is baie opgewonde oor die projek en het reeds iets soortgelyk van stapel gestuur by Oudtshoorn se bekende hangbrug. “Ek het ‘n droom wat ‘n realiteit kan word,” sê Basson. “Ek wil ‘n klomp vrywilligers bymekaar maak om een miljoen spekbome in en om Oudtshoorn te plant. Dit klink miskien verregaande, maar dis ‘n doenbare moontlikheid.
Dit is wetenskaplik bewys dat spekbome ons lug suiwer. Dink net daaraan – hierdie droomspan van vrywilligers kan deel word van geskiedenis en ons kan na een miljoen spekbome aangeplant is, Oudtshoorn bemark as die dorp met die skoonste lug in SA, dalk in die wêreld. Baie mense en besighede het nie die tyd om sulke verrigtinge by te woon nie, maar hulle kan deel van geskiedenis word deur die aanplant van spekbome te borg.”
Bekende Oudtshoorn-botanis dr. Anne-Lise Vlok het ook die verrigtinge bygewoon en die boomplanters aangemoedig waar die hange baie klipperig was wat gate grawe bemoeilik het. “Beskou elke boom wat jy plant as jou eie boom,” het sy gesê. “Dis dan ook jou verantwoordelikheid om seker te maak dat persone nie agterna ongekontroleerde weiding met bokke en skape beoefen nie, want dit gaan jou boom vernietig.”
Plaaslike veearts dr. Garth Ryder en kunstenaar Diane McLean het hulle ondersteuning gewys deur rommel op te tel en te verwyder.

Die groep vrywilligers het verlede week 210 spekbome teen De Rust-koppie geplant. Dr. Anne-Lise Vlok en Charles Basson staan in die middel. Foto: Leon Nell.
'Ons bring jou die nuutste De Rust | Klein-Karoo nuus'