OUDTSHOORN NUUS - Die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit staar tans groot uitdagings in die gesig met sy padnetwerk, slaggate en verouderde pypleidingstelsels.
Waarnemende direkteur van tegniese dienste, Chris Swart, het die dringende behoefte aan herstelwerk uiteengesit en die impak wat hierdie kwessies op die gemeenskap het. Hy het aan Oudtshoorn Courant 'n oorsig gegee van die huidige situasie en die maatreëls wat getref word om die infrastruktuur van die dorp te verbeter.
Paaie
Die paaie in Oudtshoorn verg aansienlike werk. Swart het die volgende oor asfaltpaaie verduidelik:
"Die basislaag verskaf die krag aan die pad, nie die asfalt bo-op nie. Terwyl dit 'n spesifieke dikte moet wees, is die primêre doel daarvan om die pad te verseël. Water is die grootste vyand indien water die lae binnedring, beskadig dit die pad. 'n Herseëlprogram is nodig om elke 10 tot 20 jaar paaie te opgradeer. Tans benodig die Oudtshoorn-munisipaliteit R800 miljoen om die paaie op standaard te herstel."
Slaggate
Swart het verder verduidelik hoe slaggate gevorm word, wat vererger tydens reën. "Water op die padoppervlak dring krake en gapings in die padlae binne. Krake in die asfalt kan veroorsaak word deur die basislaag wat meegee. Dit is hoekom paaie herseël moet word om die asfalt se lewensduur te verleng. Water wat die krake binnedring, verswak die boonste laag wat veroorsaak dat 'n slaggat vorm."
Pyplyn-netwerke
Volgens Swart is die pypleidingsnetwerk problematies omdat Oudtshoorn steeds met asbespype werk, 80% van Oudtshoorn se 200 km waternetwerk is asbespype.
"Hierdie pyplyn-netwerk het grootliks die einde van sy lewensduur bereik, wat gereeld barspype tot gevolg het. Soortgelyk aan die padherseëlprogramme, het munisipaliteite oor die jare tipies 'n pypvervangingsprogram om verouderde infrastruktuur te vervang. Slegs die afgelope vyf jaar is daar 'n gesamentlike poging aangewend om asbespype met moderne PVC-pype te vervang."
Volgens hom is die geraamde koste om die hele netwerk te vervang ongeveer R200- tot R300 miljoen.
"Dit sal jare neem met die beskikbare fondse om die netwerk op standaard te bring."
Die munisipaliteit se benadering is om herstelwerk uit te voer binne hul vermoë. "Die hooffokus tans is die paaie in die middedorp, waarna die program na ander gebiede op Oudtshoorn uitgebrei sal word."
Hy noem ten slotte dat die Oudtshoorn-munisipaliteit bewus is van die uitdagings van die verouderde infrastruktuurstelsel en is toegewyd om die nodige opgradering te doen. "Terwyl die finansiële vereistes aansienlik is, volg die munisipaliteit 'n gefaseerde benadering om die paaie- en pyplynnetwerk op te gradeer. Deur die mees kritieke areas te prioritiseer, en strategiese herstelprogramme te implementeer, beoog ons om die kwaliteit van ons infrastruktuur vir alle inwoners te verbeter."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’