OUDTSHOORN NUUS - Kragtoevoer na dele van Oudtshoorn was die afgelope naweek vir bykans sewe ure onderbreek na kwaaddoeners 'n elektriesekabel wou steel.
Volgens sersant Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, is drie verdagtes in verband met die voorval by die munisipale depot in Wagnerstraat in hegtenis geneem.
Die skade beloop ongeveer R25 000.
Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het die afgelope naweek in 'n verklaring gesê dat die 22 kw-kabel wat gesny is kragtoevoer na die NA Smit-substasie voorsien.
"Elektrisiëns wat na die probleem omgesien het, het uitgevind dat die probleem weens vandalisme ontstaan het. Die polisie kon een persoon dadelik in hegtenis neem en die twee ander is later aangekeer.
"Die skade moet deur die belastingbetalers betaal word en ons vra die publiek om nie munisipale eiendom te beskadig nie. Voorvalle soos die is onaanvaarbaar en veroorsaak wanorde en geldverlies."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'