DYSSELSDORP NUUS - Lede van die Dysselsdorp-polisie het verlede Donderdag drie persone op heterdaad betrap toe hulle na bewering probeer het om kragkabels op die Kammanassie-pad te steel.
Volgens adjudant-offisier Fred Snyman, waarnemende stasiebevelvoerder van die Dysselsdorp-polisie, het die lede inligting ontvang dat daar persone is wat drade in die kanaal skoonmaak.
"Die beamptes het drie persone op die toneel op aanklag van vermoedelik gesteelde eiendom in hegtenis geneem."
Volgens hom het die mans reeds in die hof verskyn en is hulle op eie verantwoordelikheid vrygelaat. Die drie verdagtes moet weer op 15 Augustus in die hof wees. Hy het ook bevestig dat die persone by die munisipaliteit werksaam is.
Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit sê, hulle is bewus van die voorval.
"Ons beskou die voorval as baie ernstig en het met 'n interne dissiplinêre proses begin," het hy gesê.
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'