OUDTSHOORN NUUS - 'n Man wat twee fietse gesteel en verkoop het, is Maandag in die Oudtshoorn-distrikshof aan diefstal en huisbraak met die opset om te steel en diefstal skuldig bevind en drie jaar gevangenisstraf opgelê.
Myron Monroe (26) het in 'n pleitverduideliking, wat deur die staatsaanklaer, Thuba Nyamate, aanvaar is, skuldig gepleit op die klagtes dat hy op 31Augustus 2023 'n BMX-fiets ter waarde van R3 000 in Proteastraat, Colridge View, en op 2 September 2023 'n fiets ter waarde van R24 000 in Fernstraat, Colridge View gesteel en vir R500 verkoop het.
Monroe sê in sy pleitverduideliking dat hy die BMX in 'n oop motorhuis sien staan, dit geneem en vir R800 aan Cash Crusaders verkoop het.
Twee dae later het hy by 'n motorhuis in Fernstraat ingebreek en die ander fiets daar gesteel wat hy vir R500 ook aan Cash Crusaders verkoop het.
Sy regshulpprokureur het die hof versoek om vir vonnis in ag te neem dat hy skuldig gepleit, berou toon, en reeds geruime tyd in aanhouding is.
Landdros Vaughn Shone het met vonnisoplegging gesê Monroe se lang lys vorige veroordelings is verswarend en dat vonnisse wat hom al voorheen opgelê is, hom nie tot ander insigte gebring het nie.
"Diefstal in Suid-Afrika is besig om handuit te ruk en die publiek kyk na die howe om dit met swaar vonnise te probeer hokslaan," het Shone gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’