TUINROETE NUUS - Die aanhoudende pogings deur polisie om dwelmmisbruik en die verkoop van dwelms op straat uit te roei het verlede week verseker dat drie mans, onderskeidelik twee van De Rust en een van Heidelberg, hulself agter tralies bevind.
Dit nadat die polisie beslag gelê het op Mandrax-pille en dagga tydens misdaadbekampingsveldtogte in die Tuinroete.
Luidens 'n verklaring deur Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het De Rust-polisie op 14 Februarie tesame met misdaadintelligensie 'n intelligensie-gedrewe operasie in Blomnek, De Rust uitgevoer.
Volgens Spies het 'n soektog van die perseel voortgegaan wat gelei het tot die beslaglegging van 20 Mandrax-pille en 70 gram dagga.
"Die polisie het beslag gelê op die dwelms sowel as 'n onbekende aantal kontant wat glo die opbrengs van onwettige dwelmhandel was," het hy bygevoeg.
Spies het gesê dat twee verdagtes, onderskeidelik 60 en 63 jaar oud, in die perseel gevind is, in hegtenis geneem is en aanklagte van dwelmhandel in die gesig staar.
Spies het ook gesê dat Heidelberg-polisiebeamptes op dieselfde dag gereageer het op 'n wenk oor 'n man wat in die besit van 'n besending dwelms was wat afgelewer sou word by 'n haarkapper in die omgewing.
"Die beamptes het die inligting vinnig geoperasionaliseer en tydens 'n patrollie in Niekerkstraat, 'n man gewaar met 'n rugsak. Hulle het die man genader en met ondersoek van die rugsak 164 'bankies' en ook twee sakke vol los dagga gevind," het Spies gesê.
Die polisie het beslag gelê op die dwelms en die 30-jarige verdagte in hegtenis geneem vir die besit van dwelms, het hy bygevoeg.
Volgens Spies bly die drie verdagtes in aanhouding en sal hulle in die landdroshof verskyn sodra hulle aangekla is.
"Hierdie aksies vorm deel van operasies wat deur die week gehou word om dwelm- en ongelisensieerde drankafsetpunte in die streek te sluit. Die operasies word onderhou in lyn met Operation Shanela-ingrypings wat oor die naweek plaasgevind het," het hy gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’