OUDTSHOORN NUUS - Die Eden-landelike blitspatrollie en Oudtshoorn-misdaadvoorkomingseenheid in samewerking met Oudtshoorn-misdaadintelligensie-afdeling, het op Maandagaand, 18 Julie, op berugte dwelmhandelaars op die N12 toegeslaan en beslag gelê op 'n groot hoeveelheid Mandrax-tablette sowel as die Mazda wat gebruik is om die dwelms mee te vervoer.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het lede van die polisie in 'n jaagtog, tussen George en Oudtshoorn betrokke geraak toe hulle gesien het hoe die insittendes probeer het om van die tablette ontslae te raak deur dit by die venster uit te gooi.
Die polisie het daarin geslaag om die voertuig af te trek en die insittendes, onderskeidelik 29, 45 en 56 jaar oud te arresteer vir die handel in dwelms. Die besending Mandrax-tablette wat by die venster uitgegooi is, is deur die polisie herwin as bewyse teen die drie misdadigers.
Pojie vertel ook verder dat die besending na Oudtshoorn en die omliggende areas op pad was en daar beslag gelê is op 520 heel-, 70 halwe- en 68 kwart- Mandrax-tablette met 'n straatwaarde van R40 000.
Die drie misdadigers se eerste hofverskyning het op 20 Julie plaasgevind.
Lt. genl. Thembisile Patekile, Wes-Kaapse provinsiale kommissaris, het sy lof uitgespreek teenoor almal wat by die arrestasie betrokke was en Die lede aangemoedig om hulself met die polisie se strategiese en operasionele doelwitte te belyn om 'n dwelmvrye gemeenskap te verseker.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'